Saturday, May 22, 2010

Dit vat ook twee om die masochism tango te dans

Vertel my asseblief van jou wonderlike lewe; van die prentjiemooi huis in die wonderskone spot langs die see. Vertel my van julle troeteldiere - van hoeveel vreugde jy uit die warm pelsies wat teen jou skuur put. Van die sonsondergange. Moenie swyg oor julle fantastiese sekslewe en julle perfekte dogtertjie wat so sonder enige moeite gemaak en gekry is nie. Van die tweede enetjie wat nou oppad is. Onthou om my te vertel ek sal nie verstaan van ware liefde tot ek my eie kinders het nie. Vertel my van die 'krisis' wat jy gehad het om die juiste kleur kar te kon koop, van die special by Woolies op die beddegoed en gordyne en van die tien kg wat jy oor die laaste drie maande verloor het. Vertel my sommer ook hoe vreeslik duur dit is om dus jou klerekas te moet vervang, maar hoe onbeskryflik dit is om van al daardie ekstra bagasie ontslae te wees. Vertel my alles gebeur met 'n doel. Vertel my van jou hoogs betalende werk, van jou selfbeheersing, van jou ma en pa wat nog beide leef en sulke goeie grootouers is. Vertel my van die oplewing in jou geestelike lewe en van die uitstappies wat julle as man en vrou en as gesin saam doen. Onthou die foto's.

Want ja, ek is jaloers en ja, ek haat jou lewe soms met 'n nyd wat sigbaar moet wees. Maar jy is my vriend(in) en ek gun dit vir jou. Al gaan maak ek soms in die middel van die gesprek tee net om my selfbeheersing weer mooi onder beheer te kry. Spog by my en deel met my, want dit gaan infinitely seerder maak as jy hierdie dinge nie met my wil deel nie. 'Om my te spaar'. Skiet maar; ek is sterk genoeg om dit alles te hanteer. Dit vat immers twee om ook die masochism tango perfek uit te voer.

No comments:

Post a Comment