Monday, October 15, 2012

Eiers uithaal by die plofkip

 My linkerbeen na twee weke se al om die ander aand inspuit.  (Die ander aand is dit die regterbeen) Gewoonlik los dit net so 'n klein bruin merkie, maar elke dan en wan word dit blou ook.

 Dié is gross.  Moenie inzoom as jy nou net geëet het nie.

 IVF stap vir stap
Ek moes grin vir die vorm van die sleutelhouer van die kamer waar mans kan gaan... wel... daar is onder ander Scopes in die kamer...

Ek is getraumatiseer.  Dis die beste hoe ek vandag kan beskryf.  Die deeglikste.  Ek het die laaste twee weke 3.5kg swaarder geraak.  Plofkip.  Intussen moes ek eiertjies produseer, maar daar is ek blykbaar nie so goed in nie - net vier.  Maar dit was 'n seëning, vind ek toe vandag uit.  

Laat ek voor begin. 

Vanoggend het ek gebad en geskeer en reggemaak vir die dag.  Vol moed en durf en vrees en determinasie.  Die potjie gevat en in my binnesak gesit.  Ek het die absolute vrees dat wanneer ek met daardie potjie reis die polisie my gaan stop en deursoek en ek met iets soos 'slaaisous?'  vorendag gaan moet kom.  Dit moet binne 2 ure (verkieslik vroeër) afgelewer word.

En toe is die trein gekanselleer.

En toe is die volgende trein laat. 

En uiteindelik is ek staan-staan in 'n stoptrein werk toe en het die potjie op die 2-uur deadline ingehandig.

'n Halfuur voor ek moes ingaan vir my afspraak het ek, sissie wat ek is, twee ibuprofens gesluk.  Geen sin om te staan en tjank nie.  Daar aangekom is ek redelik vinnig gehelp en toe vra die verpleegkundige my waar my partner is.  Hy werk.  Maar hulle het hom nodig.  Vir meer van wat net hy kan produseer.  Ek skrik my toe rot.  Sy verduidelik hulle het saad en kan dit gebruik, maar hulle wil kyk of daar nie 'n beter kwaliteit kan wees met 'n tweede potjie nie.  Toe bel ek Rods paniekerig op. 

En toe gee sy my 'n kalmeerpil.  En 'n (seer!) inspuiting in die boud.  En vertel my ek mag vir die volgende 10 uur nie 'n auto bestuur nie.  En verduidelik die hele prosedure aan my.  Vra my of ek weet wat 'n eendebek is.  No shit.  Ek is so ver in die behandelingstrajek.  Ek ken die ding. Intimately.  Ek antwoord toe:  Koud.  (En swyg oor die 'donders ongemaklik, maak my so seer dat ek violated voel' gedeelte)

Ek worry toe nog oor of Rods die middag sal kan vrykry, toe is dit my beurt vir die 'ingreep'.  Nou daar is 'n juis-benaamde- woord.  Ingreep.  Vergryp sou ook werk.

Mens lê daar met jou bene in die lug, jou boude wat oor die rand hang, en wonder of jy eweredig geskeer het.  En dan word die eendebekding in jou inforseer.  En dis onmenslik seer.  Toe kry ek vier inspuitings in die vaginale wand en en reken so by myself dis 'n weird plek.  Want dis nie waar die eitjies geoes word nie.  Miskien is dit om die eendbek minder ongemaklik te maak, maar toe trek die ding sy snater uit my uit en ek het 'n oomblik van rus.  Dokter waarsku my daar is adrenalien ook in die inspuiting en dis ok as my bene aan die tril gaan.  En in kom die fake penis.  Lang dun stokkie met sy ronde koppie vir echo-rondloer.  En ek relax vir 'n momentjie, want ek reken as ek nou aan die tril gaan, gaan sy my heeltemal verkeerd verstaan.

Ek kyk toe ewe op die skerm saam, sien die mooi ronde albaster follicles.  Balletjies van so 3-4cm in deursneë vol vog en iewers 'n eiselletjie binne-in.  Ek het gister die volume van 'n sfeer gegoogle en weet dit is tussen 14 en iets in die 20ml per balletjie.  Mens voel hulle so deur die buikwand.  Lekker weird.  Die dokter waarsku my toe ewe mooi sy gaan begin met die punksie en dit is soos 'n erge menstruasiekramp en as dit vir my te veel word, moet ek haar vertel, dan hou ons pause.  (By die werk beteken pause teetyd met koekies, maar ek dink nie dit is wat sy bedoel het nie.)

Natuurlik het sy gelieg.  Dis soos 'n messteek in jou ingewande in.  Wat dit eintlik is.  En die dreinering vat vir ewig en dit is so seer.  So verskriklik seer en die verpleegkundige vra mooi 'gaat dit nog?' en ek het nie asem om te sê Nee ek wil nou weggaan en los my uit en as dit so seer is, hoe is die baar-aksie?  So ek knik net met my bene en hele buik wat op die stadium al aan die tril is.  Bisar sit ek toe en dink aan hoe so 'n trillende massa vanuit die ander rigting moet lyk.  En uiteindelik is nommer 1 gedreineerd en begin sy ook aan die regterkant met nommer twee.  Toe word die penis se oog in die ander rigting gedraai.  Links was minder seer.  Soos wat om jou voet af te kap seker minder seer is as om jou knie af te kap.  En toe loop die trane oor my wang, maar ek snik nie en ek kyk nie meer op die skerm nie.  Daar klaar loer sy toe nog 'n keer regs net om seker te maak daar is nie iewers nog 'n verlore eiselletjie nie.  En sy vertel my dis ok, dis klaar, sy gaan net gou alles afvee.  En ek relax.  En met die oomblik wat ek relax, druk sy 'n setpil in my agterent op.  Nou het ek trust issues ook nog!  

Dis aan die een kant snaaks en aan die ander kant verskriklik.  

Toe maak hulle my mooi toe en ek sit my trillende bene op die bank neer.  Die het so 'n uitklapstuk spesiaal vir mens wie se bene weer wil aarde toe kom, reken ek.  Verpleegkundige wys my toe die ses buisies vol geel vloeistof wat uit my geprik is.  Ek moet erken ek was geskok oor die volume.  Want dis regtig baie vir vier eitjies.  Maar ek was ook, vir die eerste keer verlig dat ek net vier follicles gehad het.  Die internet sê die gemiddeld is 12.  Ek sou dit nie oorleef het nie.  Kalmeerpil, pyninspuiting of setpil (of my eie inisiatief ibuprofen) ten spyt.  Ek sou uitpass of vloek of huil of iets.    

Ek word toe tee of koffie aangebied.  Nou, ek woon lank genoeg in Nederland om nie tee te kies nie.  Koffie word toe vir my gebring, die bedkassie word nader getrek en daar is alles mooi netjies in 'n rytjie  binne-in:  suiker, zoetjes, melkpoeier, lepeltjies.  Ek het regte suiker gekies.  En tussen die slukkies deur gedink die kaffeiene gaan my nog meer laat bewe, maar dis ok.  En toe los hulle my 'n bietjie alleen.  Ek staan toe op, gaan badkamer toe en kom toe tot my verrassing afgter dat ek regtig  gepuncture is.  My gou skoongemaak, aangetrek en 'n foto van die regtig gross instrumente geneem - synde hulle my alleen in die kamer gelos het - en toe kom Rods binne.  

Ek is dankbaar hy het die prosedure nie gesien nie.  Ek sou vir ewig skaam gevoel het dat hy my so moes sien.  Die verpleegkundige vertel hom toe ek lyk wel calm and composed, maar sy is nie seker dit is aan die binnekant ook so nie.  Dit moes sy nie sê nie.  Toe is ek sommer huilerig.  Maar ook daarvoor was daar nie veel tyd nie, want hy moes na die kamertjie met die Scopes gaan en ek moes tyd hê om tot verhaal te kom.  

Hulle sê die punksie is die ergste van die hele behandeling.  Fisies die ergste.  Ek weet nie, maar ek dink hulle is reg.  Die emosionele trauma wat met ivf gepaard gaan, is nie 'n ligte las nie.  Die wag na die terugplasing (wat niks erger is as wat met iui gebeur)  is vast wel erg.  Maar die geweldadigheid van die proses, die trauma, die pyn van die hele proses, veral die punksie, laat my wonder hoe graag ek kinders wil hê.  

Môre hoor ek hoeveel embrio's daar is.  Hulle word dan een-een teruggesit.  Maar wat as hulle opraak?  Ek weet eerlik nie of ek die krag het om die proses te herhaal nie.  




No comments:

Post a Comment