Tuesday, October 16, 2012

Teleurstelling

En toe is nie een van die vier eitjies bevrug nie.  Die vroutjie wat my gebel het, het self spyt geklink.  Ek reken dis ook nie maklik vir haar om die soort nuus te moet meedeel nie.  Sy het my nog 'n garingtjie van hoop gegee.  Drie van die eitjies was nie volwasse nie en hulle is opnuut met sperms bestook.  (Ek wonder so by myselwers of dit ooit sal werk om enigiemand of -iets volwasse te kry:  verdrink hulle in sperma en siemsalabiem.  Plots volwasse...)  Die resultaat van die desperate aksie sal ek Donderdag oggend hoor.  Maar ek weet mos...

Ek was nie so optimisties oor die hele behandeling nie; veral nie toe ek maar vier eitjies had.  Maar toe ek hoor dat daar defnitief vier uitgehaal is, het ek begin somme doen.  Statisties gesien moet tussen 2/3 or 3/4 bevrug word.  Ek het dus gehoop op al vier, maar gedink net twee sal dit maak.  En toe niks.  Dit is 'n bitter pil om te sluk na die trauma van die laaste maande - en veral van Maandag.

Ek voel 'n bietjie sielloos op die oomblik; asof ek huiwer tussen gevoelloosheid en super-emosionaliteit.    

Maar ek het vannaand 'n killer pot squash gespeel...

No comments:

Post a Comment