Sunday, June 25, 2017

Totsiens Ouma

Ek is 'n weeskleinkind.

Terwyl ons met vakansie in Barcelona was, kom die whatsapp binne - die een wat ek nou al van einde vorige jaar af verwag.  Ouma is oorlede.  Ek was verras met hoe hartseer ek was, veral omdat ek dit sien kom het.  Vir my pa het ek 'n sms gestuur dat maak nie saak of mens dit verwag of nie, niks berei jou voor op die dood van jou moeder nie.  Die waarheid is seker dat niks mens op die dood voorberei nie.

En toe kom die herinneringe.  Eers dit wat in my hoof woon, later op Facebook ook my familie s'n.  Dinge: Ouma se huis, haar kumkwat boom by die voordeur, haar ou huis op die plaas, die akasiaboom met die geel blomme wat my hooikoors gee, haar prinsesstyl-rokke, haar hare, die Onse Vader gehekel teen die muur, die klok waarvan die deuntjie nooit reg wou speel nie, die straat met die boom wat in die middel daarvan groei. 

En dan die belangrikste dinge in die lewe - dit wat nie dinge is nie.  

Ek onthou haar stem, haar reuk, haar vlytige hande.  Ek onthou hoe sorgsaam sy was, en hoe slim. Ek onthou dat sy onthou het dat pienk Vinolia seep my gunsteling is, en dit vir my saamgestuur het in 'n pakkie toe ek 'n student was en nie sulke duur seep kon bekostig nie.  Ek onthou 'n paar diep gesprekke wat ons gehad het toe ek al volwasse was, maar ek onthou ook dat sy na my geluister het toe ek nog as kind aan die babbel was oor alles en nog wat.  Hoe sy, terwyl sy by ons op Montagu gekuier het, halfpad tussen die skottelgoed was gestop het, buitetoe geloop het, en die appelkoos wat sy uit die kombuis bekyk het, gaan pluk het.  

Die verhaaltjies uit haar vroeĆ«r lewe - hoe sy vir tannie Johanna met 'n strykyster tussen die turksvye deur gejaag het en van hoe sy geval het en bekommerd was oor 'wie't my gesien'.  

Toe sy 90 geword het, het ons makietie gehou en sy het die langste speach gegee wat ek haar ooit hoor gee het.  Sy het ons bedank dat ons daarheen gekom het, Annerie se kinders bedank dat hulle so mooi na haar omgesien het en toe haar skoonkinders bedank - die wat van die begin af by hulle partners is, en ook vir Susan en Anneliese wat later in hulle mans se lewens bygekom het.  

Hoe som mens iemand se 92 jaar op in 'n paar paragrawe?  Hoe maak jy seker dat jy die volle essensie van hulle wese kan vaspen?  Ek het geen idee nie.  Maar ek gaan vir Ouma mis.

Twee dae later - in die gotiese kwartier van Barcelona - loop ek verby 'n silwersmidswinkeltjie.  Buite, in 'n vertoonkassie, het hulle 'n paar sierade.  Wat is die kans, dat daar 'n klein, oudtydse strykystertjie in sal wees - 'n klein replika van dit waarmee my tannie gejaag was. Wat die statistiese kans is, weet ek nie, maar ek het hom gevind.

No comments:

Post a Comment