Wednesday, January 14, 2009

Pasmaats


Mens kan sien ek was 'n arm student. Na een van my groot universiteitsliefdes in eenrigtings uitgeloop het, het ek 'n hartroerende gediggie geskryf waarin ek hom vertel dat al word 'n paar sokkies in die was geskei, dit niks verander aan die feit dat hulle bymekaar hoort nie; selfs al word hulle later saam met 'n ander halwe paar gedra. As ek toe geld gehad het, sou ek van onderklerestelletjies ipv sokkies gepraat het...

Maar dit was dae van cross your heart and really hope to die as iemand jou daarin sou moes sien. Ek dink die helfte van my selfbeeldprobleme is Woolies se skuld. Daardie cross your hearts gee jou 'n soliede voorkoms, druk jou in rare vorms in en veroorsaak dat as die dag ietwat koud is - wat Bloem nou nogal in die winter word - dat jy 'n dim en bright het. Verskriklik. Dat ek daardie jare oorleef het, is net te bewys aan die feit dat ek nog hier tik. Skaamte is 'n verkriklike ding om aan te sterf en nog erger om aan te oorleef.

Gelukkig het ek die wonderwêreld van bedrade onderklere en die selfs wonderliker skat van kant en satyn ontdek. Die enigste ware liefde wat ek van my (laat) studentedae oorgehou het, is die liefde vir mooi onderklere. My selfvertroue het inderdaad met 'n paar sentimeter gegroei. En ek het ook wyser anderkant uitgewandel. Want nou weet ek ten minste dat daar baie opsies is wat perfek kan werk en as mens in die winkel 'n keuse kry van 'n bypassende volle broekie, high cut, bikini of g-string, hoeveel meer keuses kan mens nie in die lewe kry nie? Rods sal bly wees om te verneem dat ek hom nie as 'n halwe paar sien nie, maar as 'n perfekte pasmaat. Rods sal seker ook bly wees om te sien hoe my nuutste aankope lyk...


Monday, January 12, 2009

Duitsland - ysland

Bevrore rivier by Alken. Die rivier is omtrent 200 - 250m breed. Die ys was stuk-stuk gebroke en ons het gekyk hoe twee seuntjies daarop speel (en hoe een naby die kant deurgetrap het en vir sy moeite sy broek tot by sy knie natgekry het. Dit het ons natuurlik daarvan weerhou om dit ook te probeer. Mens kan darem uit ander se foute ook leer.

Dieselfde rivier in die rigting van die sonsondergang. Teen die tyd was dit al sterk skemer
Duitse pub
Uitkykpunt
Snow Angel


Een van die talle 10-huis dorpies wat oral in die sneeu gestrooi is.

Sonsondergang so omtrent kwart voor 5

Mr Snow



Net na die Luxembourg/ Bondsrepubliek van Duitsland grens

Die innerlike goedheid van die mens



In Maritza se kamer het 'n poster van Anne Frank gehang. Die presiese woorde het my jare gelede al ontgaan, maar dit kom daarop neer dat ten spyte van alles, sy steeds glo aan die innerlike goedheid van die mens. Ek dink my man is bietjie soos Anne Frank. Hy los sommer maklik goed waar ander mense dit sou kon wegdra, want, omdat hy so is, verwag hy van ander mense om ook eerlik te wees.

Ons is die naweek Luxembourg toe. Saterdagoggend is ons getas en geserp hier by die deur uit; om die sneeu te gaan aandruf net om by die kar agter te kom dat iemand oornag die klein ruitjie gebreek het, en met Rods se bril en Garmin fort is. Ergste van alles is dat dié in die cabio was en nie eens binne sig nie. Toe word ons trippie bietjie uitgestel. Ons was omtrent 'n uur by die polisiekantoor en 'n uur en 'n half by die kwikfit wat vir ons 'n plastiekruit ingesit het. Vir eers.

Dit help nie mens gooi klippe oor wie se skuld dit is nie. Al wat klippe aanrig, is om nog vensters te breek. En die vensters van die gemoed, verdra nie om met perspeks vervang te word nie. Miskien moet mens maar soos Anne glo in mense (en vergeet waar haar geloof haar laat opeindig het) of miskien moet mens katvoet deur die lewe loop. Die probleem van niemand vertrou nie, is dat mens dan soveel mis. Ek is nou baie lus om 'en soveel gespaar bly' in hakkies by te tik, maar die optimis in my weier. Want ten spyte daarvan dat ons 'n paar goed kwyt is, was die naweek 'n sukses. Rods het 'n nuwe bril en satnav en ek het 'n sak vol herinneringe - en die kans om 'n I told you so te laat verbygaan. Dan is die prys nie regtig so buitensporig nie. En dan bly glo mens maar in die innerlike goedheid van die mens.

Sunday, January 11, 2009

Waar die lyn tussen die horison en die lug vaag word

By die laaste petrolstasie in Nederland voor die Belgiese grens
Half-bevrore rivier in Liege

So wit soos sneeu, so rooi soos bloed en so swart soos ebbehout... Dalk het Sneeuwitjie se ma naby Maatricht gewoon.






Nog in Nederland het die sneeu al dik gelê. Die kinders het met slees teen die effense heuwels gespeel en ons het self soos kinders probeer speel. Die poedersneeu is egter glad nie geskik vir sneeumanne bou nie. Dit bly verkrummel maak nie saak hoe hard jy dit kompakteer nie. Dit is asof alle vog uit die sneeu verwyder is.

Luxembourg

Warm sjokolade teen die koue klimaat



Wie aan die een kant van die vallei afklim, moet aan die ander kant weer opklim.

'n Halfbevrore stroompie in die valei-tuin van Chatau Luxembourgh

Alle paaie lei iewers heen. Dié in die mistige sneeu maak net mooier foto's.


Vir diegene wat vir Rods ken, sal hierdie foto baie dinge verduidelik. As selfs hy opzip teen die koue, moet julle weet hoe verskriklik koud Sondag was. As julle dit nie kan uitfigure nie, kyk na die dashboard display bietjie laer af.
Luxembourg op 'n mistige Sondagoggend

brrrrrrrrrr (en dis al amper middag)
yskristalle teen die kar

Hilton Hotel Luxembourg. Ons het op die 10de vloer gebly.

Thursday, January 1, 2009

Oujaarsdag in Leiden

Die Naturalis gebou in 'n waas van mis en sneeu.
Die burg wat in die 11-honderds gebou is. In 2050 'n duisend jaar oud.
Een van die groot kanale begin toe-ys. Teen die spoed waarteen dit ys, behoort ons oor 'n week of twee te kan skaats daarop.
Rods durf een van die reeds-geyste kanale aan.
Kyk hoe fluffy lyk die sneeu
Bevrore riete
Bleshoender-spoortjies op die kanaal
Witgesneeude boom by die LUMC

Jelly Tots en Suurwurms

2008 Stock Take

Die soet
  • Ek het 3000+ km vrou-alleen gery, self bestuur, self gestop waar en wanneer ek wou. Was goed vir die siel en vir die selfbeeld.
  • Vir die eerste keer ooit gaan paraglide. Niks soos 'n bietjie adrenalien om mens aan die gang te hou nie.
  • Ons het Holland toe getrek: stroopwafels, kaas, tulpe, die res van Europa 'n klipgooi weg.
  • Ek het werk gekry in Leiden. Regte navorsingslabwerk. Die mense is gaaf, die werk is heerlik en ek het elke tweede Vrydag af.
  • Dit was 'n ooievaarsjaar. My vriende het so op 'n streep swanger geraak en hulle gesinne vergroot. Dis eintlik 'n soetsuur een dié, want ons is steeds slegs twee, maar die liggie skyn nog helder.
  • Ons het Europa gaan herontdek. Was in Duitsland, België, Frankryk en Engeland.
  • My pa het iemand ontmoet met wie hy bereid is om 'n huis en lewe te deel.
  • Daar is 'n groot Christelike oplewing in my familie
  • "My" matrieks het darem goed gedoen.
  • Rods se ma het vir ons kom kuier.
  • Ek het ontdek dat Kalahari en Amazon regtig pakkies by ons voordeur kom aflewer - nogal in rekordtyd.

Die suur
  • Rods het 2.5 maande voor my Nederland toe gevlieg en ek moes self regkom met die oppak van ons SA lewe. Was 'n alleentyd.
  • Van ons vriende se verhoudings het stormagtig geraak. 'n Paar is geskei, van die ander baklei nog (met mekaar en/of vir hulle verhouding)
  • Gesina moet uit die Kaap trek Riversdal toe. Dis darem slegs vir 'n jaar.
  • Ek verlang my half simpel na my familie en vriende en ek worry my siek oor my honde en kat. Maak nie saak dat die brein weet alles is goed en ok nie, my hart bly seer.
  • Ek het nog nie 'n kerk hier in Holland gevind waar ek tuis voel nie. Nou nog nie.
  • Soms ontdek mens 'n sy van jou persoonlikheid wat jou skok. Ek het die jaar daardie gedeelte van myself ontmoet.
  • Ek verlang na sout en asyn chips en biltong