Tuesday, August 22, 2017

Lowlands in 'n ossewa

Dit is waar die water ingaan.  Net onder dit is waar diesel in moet.  Maklike fout om later te kan maak...



 Ons geknutselde tassies en maskers

 Lunch tyd vir mense met munchies


 Kollegas

 Ons vier voor die Alpha tent

 Rockster



 Gekke akrobaat

 Ons huis-paleis-pondok-varkhok met die twee campers en die party-tent tussen-in.  Die tent was een van min wat nie gesneuwel het in die storm nie.

 Met die terrein leeg, is Lowlands skielik 'n stuk groter

 Ook ek mog die ossewa ry.  Hy ry soos 'n trekker - klink ook soos een.

 Amper alle vorms van vervoer - hier ry ons met die ferry


 Met die kleurskema was ek wel maklik te vinde in die crowds.


Sunday, June 25, 2017

Gibraltar 2017












Barcelona 2017


 'n Hospitaal wat so mooi is

 'n Restaurant waar Picasso en pelle glo graag kreatiewe gedagtes uitgeruil het



 Dis miskien bietjie vergroot, maar ek dink dat amper die helfte van my vakansiefoto's van kos is...

 Deurklopper

Musiekhal.  Ongelooflik mooie plek.

Cats and dogs


'n Bruilof om te onthou



 Wat 'n mooi bruidspaar.  Die blomme in die mandjie was extra slim en prakties.  Gelukkig is dit nie die ruiker wat uiteindelik gegooi is nie.


 G&T vir die best woman

My fasicnator is 'n paar jaar gelede deur Laura vir my gemaak toe sy in Suid-Afrika moes wag vir haar verblyfsvergunning.  Dat hy presies by my rok pas, is een van daardie toevalsdinge waar mens later oor wonder of dit regtig toeval kan wees.


'n Klomp geskiedenis het gelei tot hierdie dag. En ons is nog almal hier om die storie te vertel.

Dat Margie met daardie skoene op gras kan loop, is een van die wonders van die Suid-Afrikaanse vrou.

Vriende, kollegas, borrelgroep.  Ook hier is al 'n paar sakke sout mee opgeëet.

Totsiens Ouma

Ek is 'n weeskleinkind.

Terwyl ons met vakansie in Barcelona was, kom die whatsapp binne - die een wat ek nou al van einde vorige jaar af verwag.  Ouma is oorlede.  Ek was verras met hoe hartseer ek was, veral omdat ek dit sien kom het.  Vir my pa het ek 'n sms gestuur dat maak nie saak of mens dit verwag of nie, niks berei jou voor op die dood van jou moeder nie.  Die waarheid is seker dat niks mens op die dood voorberei nie.

En toe kom die herinneringe.  Eers dit wat in my hoof woon, later op Facebook ook my familie s'n.  Dinge: Ouma se huis, haar kumkwat boom by die voordeur, haar ou huis op die plaas, die akasiaboom met die geel blomme wat my hooikoors gee, haar prinsesstyl-rokke, haar hare, die Onse Vader gehekel teen die muur, die klok waarvan die deuntjie nooit reg wou speel nie, die straat met die boom wat in die middel daarvan groei. 

En dan die belangrikste dinge in die lewe - dit wat nie dinge is nie.  

Ek onthou haar stem, haar reuk, haar vlytige hande.  Ek onthou hoe sorgsaam sy was, en hoe slim. Ek onthou dat sy onthou het dat pienk Vinolia seep my gunsteling is, en dit vir my saamgestuur het in 'n pakkie toe ek 'n student was en nie sulke duur seep kon bekostig nie.  Ek onthou 'n paar diep gesprekke wat ons gehad het toe ek al volwasse was, maar ek onthou ook dat sy na my geluister het toe ek nog as kind aan die babbel was oor alles en nog wat.  Hoe sy, terwyl sy by ons op Montagu gekuier het, halfpad tussen die skottelgoed was gestop het, buitetoe geloop het, en die appelkoos wat sy uit die kombuis bekyk het, gaan pluk het.  

Die verhaaltjies uit haar vroeër lewe - hoe sy vir tannie Johanna met 'n strykyster tussen die turksvye deur gejaag het en van hoe sy geval het en bekommerd was oor 'wie't my gesien'.  

Toe sy 90 geword het, het ons makietie gehou en sy het die langste speach gegee wat ek haar ooit hoor gee het.  Sy het ons bedank dat ons daarheen gekom het, Annerie se kinders bedank dat hulle so mooi na haar omgesien het en toe haar skoonkinders bedank - die wat van die begin af by hulle partners is, en ook vir Susan en Anneliese wat later in hulle mans se lewens bygekom het.  

Hoe som mens iemand se 92 jaar op in 'n paar paragrawe?  Hoe maak jy seker dat jy die volle essensie van hulle wese kan vaspen?  Ek het geen idee nie.  Maar ek gaan vir Ouma mis.

Twee dae later - in die gotiese kwartier van Barcelona - loop ek verby 'n silwersmidswinkeltjie.  Buite, in 'n vertoonkassie, het hulle 'n paar sierade.  Wat is die kans, dat daar 'n klein, oudtydse strykystertjie in sal wees - 'n klein replika van dit waarmee my tannie gejaag was. Wat die statistiese kans is, weet ek nie, maar ek het hom gevind.

Friday, April 8, 2016

'n Tjankbalie by 'n informatiebalie

En so staan ek toe Dinsdag by die ziekenhuis en snik.  Natuurlik was daar 'n aanloop tot die gebeurtenis; mens doen dit nie sommer so vir die lekker nie.  Veral nie.

Vorige week Donderdag voel ek die tandvleis bo een van my voortande is seer.  Ek dink dit is interessant, want daar het ek 'n kroon met 'n pen in my kaak in (ek dink nog steeds die woorde vir kakebeen en bekkenbeen behoort omgedraai te word).  Nou por por ek my nep tand met my tong en dan is dit seer, so my tong gaan terug om seker te maak dat dit dan ook daadwerklik seer is.  

Vrydagnag rond drieuur word ek wakker met tandpyn.  'n Beer met tandpyn.  Vyfuur kyk ek nog na die plafon.  Halfses gaan bad ek maar en gaan ek werk toe, want probeer slaap is onproduktief en my tandarts is in Leiden. Half nege toe sy praktyk oopgaan, bel ek en ek mag daar om 11uur wees.

Toe is daar 'n infeksie in die wortel van die tand waarop die kroon ooit geplaas was - en die wortel het nog al sy senuwees in.  Nou moet ek van tandkwale noem dat ek ook al my senuwees daaroor het. Hy vertel my toe hy gaan my antibiotika gee, maar ek moet 'n afspraak by die hospitaal maak, want die behandeling is iets wat hy nie kan doen nie.  Hy bel toe eers die hospitaal waar ek werk, maar hulle vertel hom ek kan eers oor drie maande gehelp word.  Hy vertel hulle toe dat ek teen daardie tyd al dood is.  (Hoop ek nie) Toe bel hy een van die hospitale in Den Haag en hulle kan my Dinsdag al sien.  Ek kry toe die foon om al my inligting te gee.  En toe was daar pawpaws en fans.

Wat is uw naam.  Dit weet ek.  Wat is uw achternaam.  Ook dit weet ek.  Wat is uw meisjesnaam?

Nederlandse hospitale het 'n obsessie met nooiensvanne en dit is vir my 'n probleem want gee ek dit vir hulle, skryf hulle vir my fakture vir Mev Barnard.  (Barnard beteken juis aard na 'n beer en in die geval 'n beer met 'n seer tand.) Dit sou minder erg wees as ek hier gebore was, maar nie een van my reisdokument of ID dokumente het my nooiensvan op nie, so my mediese fonds wil dan geen uitkering maak nie en dan moet ek weer alles met hulle uitsorteer.  Dit is 'n schlep.

Nou vertel ek die hospitaal dat hulle my meisjesnaam nie nodig het nie.  Nee, ek moet dit gee.  Nee ek wil nie, nee ek moet ens ens ens.  Uiteindelik vertel ek hulle Barnard.  Bernard? Nee, Barnard.  Bernard? Nee, Barnard.  B AA rnard.  oh ok.  Mev Baaarnard u mag Dinsdag om net na 12 kom, meld u eers by die balie aan en kom dan na kaakchirurgie. En moenie agteraf self probeer om 'n auto te bestuur nie.

So sluk ek toe die naweek maar my antibiotika, sny my ete in baie klein stukkies en dit is Dinsdag en dit is nog 'n dag. En ek kom mooi vroeg, want ek het goeie maniere.  Staan ek by die informasiebalie. Gee hulle my mediese fonds kaart en ID.

Sorry, mevrou, maar u het geen afspraak by ons vandag nie.  Ja ek het, nee jy het nie, ja ek het, soek onder my meisjesnaam, nee ook nie.

En toe wil ek huil.

Ek is doodbang vir tandartse - nie vir die mense self nie, maar vir die feit dat hulle in my mond rondgraai en pyn doen en ek hulle nie mag slaan nie.  So ek het myself nou al die hele naweek opgewerk na die oomblik en nou het hulle my afspraak opgedinges.  

Nou... Almal wat al TV gekyk het, weet hoe vrouens huil.  Daar is 'n biggelende traantjie oor 'n perfek gemake-upte wang en volgens die ou Afrikaanse vrystories wakker dit 'n beskermingsdrang by (veral) manne aan.  Ek huil nie so nie.  Ek wakker ander emosies aan. Ek kry demoniese oge, rooi kolle in my  nek en 'n zeer ongelukkige mond.   Die arme vrou agter die balie sien toe dat sy met hierdie wese opgeskeep gaan word as sy my nie vinnig wegstuur nie.  Ek kry toe wel 'n hospitaalkaartjie by haar en 'gaan maar na kaakchirurgie, miskien vind hulle jou gegewens daar iewers'.  In ander woorde 'ek sien nie kans vir jou nie, gaan word iemand anders se probleem.  Asseblief!'

Kaakchirurgie het toe middagpouse en ek sit daar vir 15 minute myself en jammer kry.  En toe daag die sekretaresses op en ek staan in 'n lang ry met ander hulpeloses en uiteindelik vooraan.

Nope ek het geen afspraak by een van hulle horde dokters nie.  Is ek seker ek moet nie die tandarts sien nie? Nope. Is ek seker ek is by die regte hospitaal? Yup. En ek vertel hulle hoe laat ek hulle Vrydag gebel het, al die inligting wat hulle my gegee het en hoeveel keer ek my meisjesnaam moes uitspel voordat hulle dit reggekry het.  En die lig gaan vir hulle aan, hulle gaan deur die uitprint van pasiente en daar is ek:  Mev Bernard!!!

Die apex behandeling self was traumaties.  Hulle sny jou tandvleis oop, klap dit oop soos 'n koevertjie, doen onnoembare dinge in jou mond, boor selfs, klap dit toe, ryg jou toe en stuur jou al trillend en huilerig na huis.  

As enigiemand in hierdie land my ooit weer vra wat my nooiensvan is, gaan ek hulle op die voortand punch sodat hulle ook by die informatiebalies kan gaan huil.