Sunday, March 22, 2009
Tuesday, March 17, 2009
hiding in the open
Ek dink dis makliker om iets op die internet uit te blaker. Makliker as om 'n foon op te tel en op die klankgolwe te vertrou. Makliker om na 'n paar bekers boeretroos of die Engelse weergawe daarvan uiteindelik die sak patats op die tafel uit te gooi sodat die goed gesorteer kan word. Makliker. Nie maklik nie.
Die kort en die lank, die wyd en die syd van die saak is dat as mens al vir meer as 5 jaar nie voorbehoeding gebruik nie en nog steeds nie swanger is nie, jy bietjie wyer moet begin dink. Ek moet vir 'n operasie gaan. Vir nou stel ek dit uit. Ek moet 8 kg verloor voor hulle bereid is om in vitro te doen. Ek moet mediese hulp kry vir iets wat die meisies vir wie ek skoolgehou het, sonder enige probleme al in graad 9 reggekry het. Goeie magtag, selfs Bella het dit reggekry na een middag in Zest se geselskap. Dis een van die vlakke waarop niemand wil faal nie. Dis soortgelyk daaraan hoe dit sal moet voel om te lelik gevind te word om mee saam te slaap. Deur 'n dronk ou. Dit voel of jy op die mees primêre vlak die paal nie haal nie. Asof jy 'n tweederangse burger is. Asof jy as vrou maar verwerp mag word. Asof al die selfbeeldprobleme (wat ek nog steeds op die Cross your Heart bra's blameer) geregverdig is.
Wat ondersteunend is, is dat hierdie gevoelens eenrigting is. Roderick onderskraag my, vertroetel my, verseker my dat alles sal regkom. Ek wonder of hy ook party dae dink dis net te veel effort. Of hy ook party dae dink dat goeie magtag, ons lewens nou is so ongekompliseerd, so maklik, soveel kans vir slaap... Waarom dit kompliseer? En of hy ook dan iewers saggies in die agtergrond, die klok hoor tik?
Wanneer mens nie opgewonde raak nie, kan jy nie teleurgesteld word nie. So as ek nie my hart op 'n eie kind sit nie, en ek kry nie een nie, kan ek nie seerkry nie? Ek dink daar is 'n klomp gate in my teorie. Probleem is ek werk nie so is nie. Ek leef my totaal in fantasië in, raak opgewonde oor die moontlike uitkomste, droom drome en sal seker gesigte ook sien as ek lank genoeg daarop konsentreer. In die geval gesiggies met blou ogies en blonde krulhare.
Sunday, March 15, 2009
Three birds
Ek is steeds gefassineerd deur die groen pappegaaie hier in Den Haag. Ons het nou-die-dag oppad na ons ete by Lapianos enetjie op sy rug langs 'n standbeeld sien lê. My hart was baie seer - al weet ek hoe die natuur werk. 'n Paar minute later toe ons weer daar verbyloop, sien ons hy sit regop. Al wat ons kon dink, is dat hy hom met die standbeeld misgis het en 'n tydjie onstnap het van die realiteit Ek hoop hy is steeds ok.
Tuis

Lentedag hierso is 21 Maart op die dagewening. Nou moet ek nog net uitvind of die bome kan lees. Sover is daar nog nie veel bloeisels nie, maar die eindpunte van die takke is al mooi opgeswel, so ek reken dat Den Haag binne 'n maand of so grasgroen gaan wees. Die tulpe en die bolplante blom egter al; nie net in netjiese tuintjies nie, maar ook op die walle van die kanale, in die middel van grasperke en op sypaatjies. Daar is geel narcicci, (koppie en pierings) freecias en 'n menigte ander waarvan ek die name slegs kan raai.
Gisteraand het ek en Rods (half 11 in die nag) besluit dat ons gestilsittery nou moet end kry en het ons met 'n redelike ompad na 'n avondwinkel toe gestap. Van daar het ons die ver pad terug huis toe gekies en verby die interessantste geboutjies gedwaal. Ons buurt is regtig pragtig. Ek dink ek begin nou vir die eerste keer regtig aan Den Haag as 'huis' dink. Mens se huis is dalk waar jou hart is - of dalk net waar jy jou kop neerlê. Wie sal regtig weet? Want wat maak mens dan nou ook as jou hart tussen die land van die tulpe en die land van die vygies moet kies?
Wednesday, March 11, 2009
Spier
William John
Op teen die Weskus
Subscribe to:
Posts (Atom)