Sunday, March 15, 2009

Tuis


Lentedag hierso is 21 Maart op die dagewening. Nou moet ek nog net uitvind of die bome kan lees. Sover is daar nog nie veel bloeisels nie, maar die eindpunte van die takke is al mooi opgeswel, so ek reken dat Den Haag binne 'n maand of so grasgroen gaan wees. Die tulpe en die bolplante blom egter al; nie net in netjiese tuintjies nie, maar ook op die walle van die kanale, in die middel van grasperke en op sypaatjies. Daar is geel narcicci, (koppie en pierings) freecias en 'n menigte ander waarvan ek die name slegs kan raai.

Gisteraand het ek en Rods (half 11 in die nag) besluit dat ons gestilsittery nou moet end kry en het ons met 'n redelike ompad na 'n avondwinkel toe gestap. Van daar het ons die ver pad terug huis toe gekies en verby die interessantste geboutjies gedwaal. Ons buurt is regtig pragtig. Ek dink ek begin nou vir die eerste keer regtig aan Den Haag as 'huis' dink. Mens se huis is dalk waar jou hart is - of dalk net waar jy jou kop neerlĂȘ. Wie sal regtig weet? Want wat maak mens dan nou ook as jou hart tussen die land van die tulpe en die land van die vygies moet kies?

No comments:

Post a Comment