Sunday, March 7, 2010

Pcycling

Saterdag het ek gaan fietsry. 'n Sessie wat nie net my bene nie, maar ook my siel goedgedoen het. Van daar die nuwe woord. Pcycling.

Die oorspronklike plan was om Wassenaar toe te ry. Daar waar die kroonprins woon. Of Hoek van Holland toe. Daar waar die groot ferry vanaf Engeland rivier-op rigting Rotterdam mik. Die twee eindpunte is presies in teenoorgestelde rigtings, maar ek het gereken as ek by die deur uitry, mik ek wind-op en hou aan tot ek nie meer kan nie. Terug huistoe sal dus maklik wees.

Op die ou end het ek Scheveninge toe gery met Wassenaar as my bestemming. Ek het bospaadjies gevat en tussen die boom-skelette deurgevleg. Gewonder of hulle weet dat volgens die Nederlandse kalender dit oor twee weke Lentedag is. Gewonder wat hulle van plan is om daaromtrent te doen. Op die grond was daar sulke mooi pers bolplantblommetjies en hier en daar 'n sneeuklokkie. Maar die bome is nog bar.

Die wind was sterker as wat ek verwag het en teen die tyd dat ek by die kasteelpoort verby die Duinwater suiwerings gebied in is, was ek reeds poegaai. Twee kilo's verder op die bo-kant van 'n aansienlike bult, moes ek afklim en aan die heining vashou. Soms weet mens jy gaan opgooi. Of doodgaan. Of beide. En die volgorde waarin dit gebeur, is nie meer relevant nie. Na 'n lang ruk en by gebrek aan enige van die twee dreaded reaksies, het ek die voorwiel weer rigting Den Haag gedraai.

Maar toe gaan dit voor die wind - en nie net by wyse van spreke nie. Met die wind teen my rug, is die afdraand wat ek in die wind-op rigting moes aftrap net om die fiets aan die gang te hou, se opdraand toe sommer kinderspeletjies. Met die nuwe woema ry ek toe al langs Scheveninge se strand af. Dit is 'n miernes van werkers. Op Lentedag mag die restaurante op die strand weer oopmaak. Hulle moet net eers gebou word, want die tydelike geboue word elke herfs uitmekaar gehaal.

Ek het op die hawemuur uitgery tot by die ligtoring. Die see was bolangs kalm met sy klein brandertjies. Die modderbruin kleur van die water het egter iets weggegee van die onderstromende emosies van die oseaan. Binne die twee hawepoorte het twee surfers hard probeer om binne te swem. Volgens wet mag mens nie daar swem nie, maar ek skat 'n seestroom het hulle ingedra. Ek het hulle lank sit en dophou - die twee wat soos blinkswart goggas lyk met hulle lywe op die surfboards en hulle arms aan die roei het hulle gelyk of hulle op die water le en kruip. Dit was nie baie effektief nie. Maar interessant om dop te hou.

Die huistoepad van daar af was ook net 'n vreugde. Met die wind meestal van agter maar soms van die sy, het ek die huis ligter betree as wat ek hom verlaat het. Die spinnerakke uitgewaai, my gedagtes georden, my emosies uitgewoed en my bene lam.

No comments:

Post a Comment