Monday, May 12, 2008

Om sambrele in hulle agterente oop te maak

Dis die een ding van Afrikaans - en my Noordkaap familie - wat ek verskriklik mis: Die manier om 'n ding so grafies te beskryf dat jy nie anders kan as om 'n duidelike (en heel dikwels) ongewenste beeld voor oë te kry nie. Om iemand aan te jaag, maak jy sambrele in sy agterent oop. Jy skop brieke as dinge te vinnig gaan. Jy bewierook mense met jou liegstories. Niemand is perfek nie en as jy dit sou waag om aan en aan te gaan oor iemand se voortreflike karaktereienskappe, kan jy verseker wees om iewers (en glad nie so onderlangs nie) te hoor dat jy nog gaan uitvind dat sy stront ook stink. Natuurlik is agterent en stront eufimisties gestel.

Maar my gunsteling is my oom se verduideliking oor die nagevolge van 'n onlangse griep en sinusaanval wat ontydig sy verskyning gemaak het. 'Jy ken mos daardie meerkaaie by die plaas se hek?' Nou nie by name nie, maar ja. 'Hulle is mos 'n pes. Nee, eintlik moet jy nie dink aan die meerkaaie nie... Veldmuise... Jy ken mos veldmuise?' Ja, veldmuise weet jy ook van. 'Mens kry mos verskillende gesinne van daardie pestilensies. Daar is daai vales en sulke geletjies en natuurlik daais met die strepies so al op die rug af.' Ek sal maar Oom se woord daarvoor moet vat, want ek spring ewe hoog vir hulle almal. 'Nou vandag is hier agter in my keel, bietjie meer na die regterkant toe soos mens van voor af kyk, so 'n krapperigheid. Dit voel kompleet asof een van daardie muise - een van die gestreeptes - se stert hier in my keel afhang en so elke dan en wan bietjie kriewel...'

Ek is maar net dankbaar dis nie een van die meerkaaie s'n nie... Dis 'n beeld waarsonder ek kan leef.

Sunday, May 11, 2008

The naked truth

"There are few nudities so objetionable as the naked truth" Agnes Repplier (1855 - 1950)

Ek sal maar Agnes Repplier se woord moet vat. Sy het immers 95 geraak as my wiskunde my nie in die steek gelaat het nie en ek is nou eers 'n derde van haar ouderdom. 33.33%. Mind you, van die straat af is daar 33 en 'n derde trappies op na ons woonstel. So wanneer kom kuier julle?

Rods het vir my 'n link gestuur van die Uncylopedia oor hypergraphia. Volgens hulle is dit a psychological disorder whereby one continues writing and writing even though one really has nothing to say. Dan gaan dit aan en aan (hele bladsy lank) oor hoe mens dit nie kan verhelp nie en ook nie kan stop nie... (http://uncyclopedia.org/wiki/Hypergraphia) Nou kyk ek na my blog en ek wonder oor die waarheid en gesondheid van my psige.

Ons is vandag toe weer Kijkduin toe en ek het 'n vermoede bevestig. Groot verskil tussen naak en kaal, maar dit het ek lankal geweet. Naak is die een met die emosionele konotasies. Kaal is die een sonder klere en die bewysste vermoede is dat ek makliker so voor vreemdes sal rondwandel as voor bekendes. Behalwe as die bekendes wil join, maar dis 'n storie vir 'n ander dag en nou dat ek daaroor nadink, nogal 'n bietjie jiggie... Nudistestrande is nogal fun. En moet asb nog steeds nie vir my pa vertel nie... Wat nie soveel fun is nie, is om op dieselfde dag wat jy besluit jy 'n nudis vir die middag gaan word, ook die Noordsee aan te durf. Daai water is leeukoud! Dink my drakie het met 3cm gekrimp. Maar dit was nog steeds lekker en bevrydend in meer as een opsig em el weet ek wou eers 10kg verloor, maar netnou tel ek dit op, so carpe diem. Of carpe towel. Sal volgende keer bietjie vroeër in die dag daar opdaag en dalk my kamera saamsmokkel. Maar ek wil nie regtig deur 'n trop tôtties gejaag word nie, so moenie kwaad raak as die foto's nooit hier uitkom nie :) Dit was nogal opvallend hoeveel meer ouens as meisies daar was en dat die meeste mense ouer as 30 is. Ek het natuurlik 'n paar teorieë daaroor en as jy vir my goeie SOET Suid-Afrikaanse wyn saambring, kan ons een aand die teorieë sit en uitmekaar- en terugryg. Om sake binne perspektief te sien, kan ons altyd die middag 'n draai op die strand gaan maak... Of nie.

Behalwe vir die strande en die tremme (om daar uit te kom) gaan daar op die oomblik nie veel hier aan nie. Ek soek nou desperaat werk, want Rods het vanmiddag ons plek gestofsuig en as ek by die huis bly, raak dit dalk my werk en jy kan sien hoe dit 'n probleem kan raak veral met die 17 van die 33 en 'n derde trappie wat binneshuis en met mat bedek is. Sal môre my CV regkry en seker teen die aand se kant begin pos op banen-websites. 'n Baan is 'n werksrigting soos ek dit verstaan. Ok, genoeg gehypergraaph vir een aand.


Saturday, May 10, 2008

'n Man wat kan kook

Gelukkige meisie, ek. Kyk wat het ek vir aandete gekry...

Moenie vir hulle sê nie...



Ek het vandag met Thinus se BMW teruggery huis toe. Moenie vir hom sê nie, asb. Seker net so oor die 2km, maar hou in gedagte dat ek aan die verkeerde kant van die kar, aan die verkeerde kant van die pad, in 'n kar waarvan die wipers en flikkers aan dieselfde kant van die stuurwiel sit, waar die son sit daar waar ek 'n middelspieëltjie verwag en waar my regterhand moet ratte en handbriek vind. Ook aan die verkeerde kant van die kar het die desibels elke dan en wan opgegaan wanneer daar gereken is dat die randsteen dalk - net dalk - te naby kom. In hierdie omstandighede is 2km sonder 'n skrapie en reg geparkeer glad nie sleg nie, is dit? Die adrenalienrush was so groot dat ek wraggies weer die trappe uitgeklim het. Snaaks, die keer het ek net 253 getel. Ek sal hulle seker nou nog 'n keer moet klim net om seker te maak. Ai.

Vanoggend het ons spesifiek park toe gegaan om die swane te gaan afneem. Dis my droom om 'n foto te neem wat vir beide Rods en Deneys na drank en trane sal dryf. Hulle twee wil mos aanhoudend foto's neem wat National Geographic sal koop - en dan kritiseer hulle die goed ook nog! Ondankbare twee skepsels daardie. As ek sulke foto's in my portefeulje gehad het, het ek lankal opgehou ander werk soek. Maar eendag is eendag...

En nou kom ek by die eintlik rede vir vandag se blog. Ons was vandag strand toe. Het by Kijkduin se nommer 4 ingang ingeloop en in die rigting van Noorderstrand gewandel. Daar was die meeste seilskepe wat ek al ooit bymekkar gesien het. Bietjie gegiggel oor daar so hier en daar 'n topless meisie lê en tan. So stap ons later by 'n paar verby wat so topless in die water en op die waterrand (waar ons stap) ronddwaal. Dit begin lyk toe vir my al lekkerder en ek wonder nog oor my Calvinistise grootword en of ek dit sal kan oorkom, toe kom ons by die nommer 8 ingang. Daar kry ek toe 'n opvoeding binne 'n paar sekondes. Nommer 8 blyk 'n nudistestrand te wees.

Dis nie dat ek nog nooit kaal mense gesien het nie. Ek het darem die internet, magtag, maar so baie van hulle! En in soveel ouderdomsklasse en shapes en sizes. Genugtig! Ek het heel overdressed gevoel. Hulle loop en lê op die strand rond. Hulle plas in die water. Hulle kom na my toe aangestap en ek het nie 'n idee van waar om te kyk nie. Kyk mens na hulle gesigte? Kyk mens of die koue noordsee se water 'n effek het op hulle... erm... of kyk jy na al die mooi seilskippies op die water?

Nou het ek 'n nuwe missie. Wil 10kg verloor sodat ek gelukkig in my vel kan wees en ook 'n dag op strand 8 kan gaan spandeer. Dink net aan die mooi egalige bruin vel waarin ek dan gelukkig sal kan wees... Dink net aan wat ek die hele dag kan lê en gadeslaan. Dink net hoe lekker dit kan wees. Maar moet net nie vir my pa sê nie...

Die lelike eendjie en die prins






Friday, May 9, 2008

274 trappies


Ek het vandag die trappies na Thinus se woonstel geklim. Al 18 vloere. 62 meter. Al 274 trappies. Verveeldheid het sy vreugdes...

Vandag die Haagse Markt ordentlik gaan ontdek. Vars groente en vrugte is daar sommer baie goedkoop en ek en Rods het met 'n behoorlike vrag 'boodskappen' teruggekeer huis toe. Selfs 'n waatlemoentjie tussen in. Arme Rods moes dit dra. Die dat ek hom toe maar met die inkopies opgestuur het en die trappe self aangedurf het. Partykeer moet mens jou onnoselhede en gek giere op jou eie aanpak en nie onskuldiges daarby betrek nie.


So, gaan ek dit weer doen? Mens wen niks deur twee keer vir jouself dieselfde ding te bewys nie. So hoor ek. Maar ek sal seker weer as die opgeboude potensiële energie weer kineties van aard wil word.

When

When you are lost and lonely in the arms of the one who loves you
When your eyes get moist and the emotions you usually keep constricted oh so well find crevices to seep out of
When your body and mind remembers the unexpected closeness of mine
When you know that you need God to make sense of this because it is too deep and too much for you alone to work through
When you try to pencil down your dreams and heart's desires, but they die a martyr's death in your numb fingers
When you think of me...
When you think of me, do not blame me for leaving
Do not resent me, but think of me as autumn
and see the amazing landscape of the winter you now are part of