Saturday, May 10, 2008

Moenie vir hulle sê nie...



Ek het vandag met Thinus se BMW teruggery huis toe. Moenie vir hom sê nie, asb. Seker net so oor die 2km, maar hou in gedagte dat ek aan die verkeerde kant van die kar, aan die verkeerde kant van die pad, in 'n kar waarvan die wipers en flikkers aan dieselfde kant van die stuurwiel sit, waar die son sit daar waar ek 'n middelspieëltjie verwag en waar my regterhand moet ratte en handbriek vind. Ook aan die verkeerde kant van die kar het die desibels elke dan en wan opgegaan wanneer daar gereken is dat die randsteen dalk - net dalk - te naby kom. In hierdie omstandighede is 2km sonder 'n skrapie en reg geparkeer glad nie sleg nie, is dit? Die adrenalienrush was so groot dat ek wraggies weer die trappe uitgeklim het. Snaaks, die keer het ek net 253 getel. Ek sal hulle seker nou nog 'n keer moet klim net om seker te maak. Ai.

Vanoggend het ons spesifiek park toe gegaan om die swane te gaan afneem. Dis my droom om 'n foto te neem wat vir beide Rods en Deneys na drank en trane sal dryf. Hulle twee wil mos aanhoudend foto's neem wat National Geographic sal koop - en dan kritiseer hulle die goed ook nog! Ondankbare twee skepsels daardie. As ek sulke foto's in my portefeulje gehad het, het ek lankal opgehou ander werk soek. Maar eendag is eendag...

En nou kom ek by die eintlik rede vir vandag se blog. Ons was vandag strand toe. Het by Kijkduin se nommer 4 ingang ingeloop en in die rigting van Noorderstrand gewandel. Daar was die meeste seilskepe wat ek al ooit bymekkar gesien het. Bietjie gegiggel oor daar so hier en daar 'n topless meisie lê en tan. So stap ons later by 'n paar verby wat so topless in die water en op die waterrand (waar ons stap) ronddwaal. Dit begin lyk toe vir my al lekkerder en ek wonder nog oor my Calvinistise grootword en of ek dit sal kan oorkom, toe kom ons by die nommer 8 ingang. Daar kry ek toe 'n opvoeding binne 'n paar sekondes. Nommer 8 blyk 'n nudistestrand te wees.

Dis nie dat ek nog nooit kaal mense gesien het nie. Ek het darem die internet, magtag, maar so baie van hulle! En in soveel ouderdomsklasse en shapes en sizes. Genugtig! Ek het heel overdressed gevoel. Hulle loop en lê op die strand rond. Hulle plas in die water. Hulle kom na my toe aangestap en ek het nie 'n idee van waar om te kyk nie. Kyk mens na hulle gesigte? Kyk mens of die koue noordsee se water 'n effek het op hulle... erm... of kyk jy na al die mooi seilskippies op die water?

Nou het ek 'n nuwe missie. Wil 10kg verloor sodat ek gelukkig in my vel kan wees en ook 'n dag op strand 8 kan gaan spandeer. Dink net aan die mooi egalige bruin vel waarin ek dan gelukkig sal kan wees... Dink net aan wat ek die hele dag kan lê en gadeslaan. Dink net hoe lekker dit kan wees. Maar moet net nie vir my pa sê nie...

No comments:

Post a Comment