Thursday, May 8, 2008

Wanneer jou neus onthou

Sonsondergang - 8 Mei 2008

Vandag in 'n supermark is ek deur my neus na 'n vaag onthoude geur gelei. Tussen die blomme deur, verby die Baberton daisies (wat na niks geruik het nie) verby die mengselbosse (wat na nies geruik het) verby die rose en tulpe (drie bosse vir 5 euro) na die vier kleinerige bossies pronk-ertjies. En sonder keuse, sonder waarskuwing, sonder voorbereiding was ek skielik weer 'n tweedejaar wat moeg van die middag-prakties af terugkom by die woonstel om 'n onverwagte, maar baie waardeerde pakkie in my wasbak te vind. 'n Sekonde of twe was ek weer 'n blosende langhaar tiener wat die bossie blomme in 'n waterglas na haar kamer gedra het. Vir 'n rukkie was ek weer herinner aan my drome van toe en aan die sorgelose dae van kennis oor mense, dinge en selfs bietjie akademie in my kop inkry. Was nogal lekker; die nostalgie.

Was ook lekker om terug te keer na wie ek nou is. Met wat ek nou weet. Was goed om te weet dat my sintuie en geheue darem nog werk hier op my oudag :) My bene ook. Ons het vannaand die Den Haagse koopavond gaan geniet. Al die winkels bly tot 9uur toe oop. Dis heerlik, maar dit verloor 'n bietjie van sy charm as dit son eers half 10 ondergaan en die koopavond meer na 'n koopmiddag voel.

My probleem is dat ek so gekondisioneer is dat as dit donker raak, my maag my daaraan begin herinner dat hy nog daar is. Nou, wanneer die son sak, is al die winkels lankal toe en kan mens nie eens 'n koeldrankie iewers koop nie. As dit so aanhou sal ek met 'n horlosie moet begin rondloop. Wat 'n wrede gedagte! En nes ek my maag oorreed het om na die horlosie ipv die son te luister, is dit winter en sak die son al net voor 4. Chaos, chaos chaos... My arme maag.


No comments:

Post a Comment