Thursday, May 1, 2008

When we were small and Christmas trees were tall

"... Now we are tall, and christmas trees are small,
And you don't ask the time of day.
But you and I, our love will never die,
But guess we'll cry come first of May

Dont ask me why, but time has passed us by..."

Bee Gees liedjie First of May uit die jare toet. Weet nie hoekom dit vir my so roerend is nie.

My wyse vriendin in die Kaap sê mens moet so dan en wan jou ou dagboeke lees sodat jy kan onthou wie jy was. Ek het vandag, na twee weke in my nuwe land, nodig om te onthou. Miskien is dit die weer. Vandag reën dit so 'n mistroostige nat reën. Ja, ja ek weet alle water is nat, maar hierdie reën is vaal en mismoedig en ek dink ek wil terug in my bed inklim.

Ons moet vandag vir ons nuwe plek nog meubels gaan koop. Dink ek het onlangs 'n lysie gepost oor wat ons nou al alles het. Dit was 'n redelike kort lysie. Ons wag nou maar geduldig vir ons SA-huis se geld om oor te betaal sodat ons al die groot goed kan gaan kry. Dis nou beddens, yskas, tuimeldroër, wasmasjien, banke en so aan. Vandag kry ons die (plat in 'n boksie) tafel en stoele by Ikea. Dit behoort die hele agterkant van Thinus se kar vol te lê. Ek wonder nog steeds hoe die mainbrain agter Ikea besluit het dat alles in plat boksies moet kan pas. En wie die bright spark was wat besluit het dat alle aflewerings in Nederland net tot by die voordeur gemaak word...

Mens sou sweer dis al weer volmaan. My oë bly oopgaan en frankly, die kamer waarin ons slaap, is nou nie eintlik so intressant nie. As ek daarmee kon wegkom, het ek Ikea vir vandag uitlgeos en rustig weer in die bed gaan kruip. Dan kon ek dalk vannag heel uitgerus die plafon lê en bestudeer het. Maar helaas... ek sal maar my skoene moet gaan soek.

Vandag is ek morbied. Dink aan vreemde quotes wat ek die laaste tyd gehoor het. Die Nederlanders reken as mens jou agterent verbrand, moet jy bly wees jy het nie andersom gestaan nie. Uit SA kom 'n onlangse onverwagte maar onomseilbare redenasie dat jy versigtig moet wees en mense so moet liefhê dat jy hulle nie seermaak nie. Die Chinese reken verder dat dit wat jy nie vir jouself toewens nie, moet jy ook nie na ander moet uitstrek nie.

Hierdie skrywery raak nou bietjie diep vir my. Sal wanneer die son weer skyn en die hart weer ligter is, my vingers op die keyboard sit.


No comments:

Post a Comment