Wednesday, May 28, 2008

Twiet squeek

Hier digby ons huis groei 'n boom. Ek het nie veel probleme met die boom nie. Hy ritsel bietjie in die wind, maar dis nie eintlik steurend nie. En omdat hy groen is, vergewe ek hom maar. Maar die boom dien as verhoog en ouditorium vir so 'n klein voëltjie. Die dingetjie squeek so erg dat Rods hom vanoggend wou gaan olie het.

Ek het vandag daadwerklik op my agterent sit en werksoek. Dis moeiliker as wat ek onthou. By die Leiden universiteit was daar twee posisies oop, maar by navraag is die een reeds gevul en die ander een verwag van my om in 'n herbarium te gaan werk. Gerperste plante en taksonomie klink nie heeltemal so erg as daar 'n salaris aan gekoppel is nie. Nog nie. Sal maar hoor wat hulle te sê het.

Die busdrywers (chauffeurs) staak, so ons kan nie voor Vrydag uit Den Haag uit na plekke soos Delft (en Ikea) nie. Die tremdrywers blyk darem nog op hulle sitplekke te wees, maar mens weet nooit wanneer hulle dit ook in hulle hoofde kry om die drywersstoel vir een by die huis te verruil nie. Ons sal straks moet loop...

Ag, ek geniet die Nederlandse taal. My nieuwsgierigheid oor baie woorde in ons taal word hier selfs verder geprikkel. Hulle gebruik woorde soos vogels, lievelingstoel en tegengestelde (teenoorgestelde). Jy hoor straks ipv binnekort. Ek wens my ore kon soos 'n hond s'n draai om dit wat ek wil hoor selfs beter te hoor - en natuurlik om weg te draai van die geswets af. Solank jy in Engels vloek, tel dit nie hier as vloek nie. Selfs jong kinders trek maklik los en niemand kyk eens twee keer na hulle nie. Niemand behalwe ek nie... Ek gee hulle my Juffrou's kyk. Dink nie dit pla hulle nie, maar ten minste voel ek dan beter.

No comments:

Post a Comment