Saturday, May 31, 2008

Ons vir jou Suid-Afrika

Vandag is die laaste dag van Mei en sou Republiekdag gewees het as die klok 'n hele paar jaar teruggedraai word. Ek onthou die laaste skooldae voor Republiekdae goed. Ons het ons landsvlaggies ingekleur en op stokkies gegom. Klas vir klas is die vlaglied in ons ingedril. Die skool het altyd 'n hele seremonie van die saak gemaak en ons het in stilte geluister hoe die sangjuffrou dawerend 'O hoor jy die magtige dreuning?' op die klavier uittokkel.

Daarna is die vlae gehys - die grotes wat van lap gemaak is - teen daardie tyd het die helfte van die laerskoolkinders lankal hulle s'n geskeur,laat val of die stokkie uitgehaal om darem iets te hê om aan te kou. Met die hys van die skoolvlag het ons (natuurlik op aandag) die skoollied gesing. Vir een maal in die jaar het die gehys van die landsvlag nie gepaard gegaan met Die Stem nie, maar met die Vlaglied. Hiervoor is ook op aandag gestaan, maar met die laaste sterwensnote, is die vlae op stokkies lustig gewaai. Nou by nadenke is daar baie ironie in die vlaglied se woorde, maar die wysie was pragtig. Is nog, maar niemand gaan hom nou meer sing nie. Nie openlik nie. Die verrigtinge het altyd 'n goeie dosis "Vir Volk en Vaderland" ingehad en is afgesluit met Die Stem.

Hoekom het ek nie toe gesien wat ek nou sien nie? Dis seker waar dat sinne wat vir "Volk en Vaderland" inhet jou rasionele denke onderdruk. Maar het ons almal nie nodig om in iets te glo nie? Glo aan die goedheid van die mens - of ten minste aan die goedheid van jou eie mense...

Beste van als is dat ons op daardie dag vroeg huis toe kon gaan.


Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra:
"Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika?"
Ons weet hy's die seël van ons vryheid en reg
Vir naaste en vreemdling, vir oorman en kneg;
Die pand van ons erf'nis, geslag op geslag,
Om te hou vir ons kinders se kinders wat wag;
Ons nasie se grondbrief van eiendomsland,
Uitgegee op gesag van die Hoogste se hand.
Oor ons hoof sal ons hys, in ons hart sal ons dra,
Die vlag van ons eie Suid-Afrika.


No comments:

Post a Comment