Sunday, June 8, 2008

Voetspore


Is daar iemand wat nog nie die gediggie van Voetspore gelees het nie? Ek het oor die jare dikwels die kaartjie ook saam met 'n present gekry en kan dit seker in verbatim opsê. "En daar waar jy net die een ry spore sien, is waar Ek jou gedra het, My kind..." Ek reken ek is al so baie in my lewe gedra ek weet nie regtig meer hoe om self te loop nie.

Maar dit nou klaar gesê, ek loop my bene stomp. Saterdag is ons Kijkduin toe. Tot by Westduinpark gestap. Oppad die mooiste drie swane (pa, ma en die ugly duckling) gesien. In Westduinpark het ons tot by die hoogste punt geklim, die kraaie besigtig en toe al die pad tot by Kijkduin op die strand geloop. Ek kom agter my linkervoet gee al meer probleme, veral as ek kaalvoet op die sagte sand loop. Rods reken ek het spesiale skoene nodig en moet so ver moontlik wegbly van enige operasie af. Ek dink nie hy is verkeerd nie, maar ek is nou eers 31 en wil nie regtig nou al ouantieskoene dra nie.

Ons het vandag na die 'kunswerk' naby Catz-straat gaan kyk waar die mini teen die kant van 'n gebou parkeer is (natuurlik weer ge-potifar). Daar is mooi strepe geverf soos op 'n regte pad en 'voila' daar sit die karretjie drie verdiepings die lug in. Kyk op my vorige blog vir 'n prentjie. As jy in Nederland 'n geregistreerde kunstenaar is en dit jou manier is van geld verdien, koop die staat glo 10% van jou kuns elke jaar. Dit help jou en as jy om een of ander rede rich en shameless word, het hulle darem 'n belegging gemaak. Dit veroorsaak natuurlik dat al wat parkie is, oorloop van weird en wonderful beeldjies (en sommige geboue karre teen die kante kry...) Ek dink dis tog te oulik. Moet een of ander tyd 'n folder op picassa sit van 'weird and wonderful statues'.

Die voetbalseisoen begin môre. Dit beteken dat Holland weereens oranje raak. Ons gaan die aand by Mark en Tracie braai en dan later sokker kyk. Ek dink ek gaan later wil huis toe kom :) Vir die laaste paar weke al sit mense vlaggies op en het elke winkel 'acties' (winskopies) op enigiets oranje. Dink die ergste vir my is die koeke wat met oranje versiersuiker versier is. Dit lyk net nie reg nie... Ag wel, ek hoop Holland wen. (teen wie hulle ook al môre speel...)




Rooi karre

Something old; something new...


... and something very weird

Wednesday, June 4, 2008

Onderhoud in 4 minute

Ek is vandag na my eerste onderhoud toe. Baie opgewonde gegaan. In 'n ander bui teruggekom, maar 'baie' feature ook in daardie bui. Die was net by die uitsendburo, so ek kan net dink hoe dit by die regte werke sal gaan. Telefonies het ek hulle vertel ek het nog nie die kredietkaart-grootte dingetjie wat dien as werks- en verblyfspermit nie, maar het die sticker in my paspoort wat dit verklaar. Het ook offisiële dokumente met 'n burgerservicenummer in. Daardie nommer kan jy slegs kry as jy 'n werkspermit het... Mooi, sê hulle, sien jou Woensdag 3uur.

Ek het 15:04 weer daar uitgewandel. Jammer, maar hulle kan nie stickers in die paspoort aanvaar nie en hulle eie departement se dokumente is nie offisiëel genoeg nie... Maar ek is welkom om hulle te kontak as ek eendag die klein kaartjie het... Dag

Tuesday, June 3, 2008

vakansies

Paragliding in Kaapstad


Niggies


Nou dat die waarskynlikheid op 'n werk al groter word, dwaal my gedagtes na die vakansies wat wag - en natuurlik die wat al verby is. Dié is die malste ding wat ek in 'n rukkie gedoen het. Het van 'n berg afgespring. Regtig. Ter wille van my pa se gesondheid het ek hom eers na die tyd vertel :) Tnx Heidi, dit was 'n dag in my lewe wat ek glad nie wil vergeet nie.

Monday, June 2, 2008

Ok, baai

Ek is een van baie kinders. Vier om presies te wees. Maar wat help al die familie jou as hulle nie met jou wil praat nie? Dis te laat om my pa te bel. Hy gaan slaap saam met die hoenders en staan saam met die koeie op. Terry Pratchet waarsku mens moet duidelik wees in jou beeldspraak, so dalk moet ek die herfraseer. Hy gaan slaap dieselfde tyd as die hoenders.... My kleinsus se foon hyl hyl hyl soos David Kramer se honne. Dit kan ek verstaan en vergewe. Jonk en besig. Maar my boeties; my liewe liewe boeties... Woon op die oomblik in dieselfde huis, so as ek daardie nommer bel, kan ek met albei praat, asook met my spaar-sussie en die twee kleintjies. Of so dag ek. Ek bel die nommer, hy lui so 'n paar keer en daar is antwoord! Oh joy, oh bliss. 'Hallo' sê ek en sit 'n glimlag in my stem. Hulle hoef nie te weet ek mis hulle so baie nie. "Ons het mense," sê die stem aan die ander kant. "Kan nie nou met jou praat nie. Ok, baai." Piiiiieeeep sê die telefoon in my oor.

Ek maak 'n internasionale oproep om hallo te sê... Dit gaan dwarsdeur Europa, seker onder die see langs Afrika af en kruip teen die land op al die pad tot by hulle - en hulle het nie tyd nie...
'...piep' sê my hart

Never blog when hungry, homesick or going piep

Sunday, June 1, 2008

Rooi rose

Love is the triumph of imagination over intelligence - HL Mencken



Clarity of mind means clarity of passion, too; this is why a great and clear mind loves ardently and sees distinctly what is loves - Blaise Pascal

Skadu's