Sunday, February 28, 2010

Selfvernietiging


Ek wonder as my man op 40 'n hartaanval kry, of ek myself sal blameer. Vir my self sal vertel ek moes seker maak dat hy gesonder lewe. Ek (wat self nie kan nee sê vir dit wat lekker en sondig is nie) moes hom gedwing het om groente ipv chips en vis ipv rooivleis te eet. Moes hom en my kicking and screaming op die smalle weg gebring en gehou het... Miskien is die ook maar soos geloof waar elkeen vir sy eie heil verantwoordelik is - of vir sy eie hel.

Friday, February 26, 2010

Middagete


Ek hou van hoe die lig vanaf die venster so mooi deur die helfte van die beker gaan. Die bekers het ek onlangs aangeskaf toe ek besef het 'n gewone teekoppie is te klein en 'n papbakkie net te lomp.

Om die sop self te maak is heel maklik. Mens vat vars (of soos vandag gevriesde) groente, gooi dit in 'n pot, braai dit sodat die smake kan trou, gooi kruie en 'n paar stock-blokkies of van daardie heerlike Ina Paarman groentestock by, gooi kookwater by en kook dit vir so 5 minute. Dan haal mens dit van die stoof af, dra dit na die stukkie langs die wasbak waar die thunderstick ingeplug is en zap dit. Dis nogal snaaks, want dit suig vakuum af bodem toe. En siedaar! Tuisgemaakte sop.

Ek reken mens kan aartappels, meel of selfs 'n ander soppakkie bygooi om dit dik te maak, maar die is die diëet variant.

aandete

Sunday, February 21, 2010

Die groot opwaartse trek



Om in het regent te moet trek, is nooit ideaal nie. Voeg by daardie sommetjie nog lang, regop , twee-verdieping-huise met kloustrofobiese nou trappies en dit raak 'n interessantheid om dop te hou. Om hier te kan verhuis, moet mens eers 'n vragauto huur, want bakkies is nie iets te vinde nie. Wanneer jou besittings by die nuwe huis opdaag, moet dit in die huis in. Onderste verdieping is nog ok-erig, maar wanneer jy enigsins van die nou trappies gebruik moet maak, kom jy vinnig-vinnig agter dat selfs 'n platskerm-TV nie lekker pas nie. So hierso, wanneer die groot trek moet plaasvind, bel jy iemand wat van glas weet. Die daag by jou plek op met sy lange leer met die elektriese hysbakkie daaraan vas. Eers word jou grootste sitkamervenster uitgehaal, dan word jou goed met die hysbakkie opgekarwei en aan die einde van die middag, met behulp van nuwe putty, sit hulle jou ruit weer terug.

Super pomelo



Volgens die mense wat weet, moet mens per dag 2-3 vars vrugte eet. Dit is alles goed en wel en lekker...maar hoe???

Saturday, February 20, 2010

Badgenoot


Dalk mooi, maar die gentleman eend swem nie so goed nie. Bly duik onder die water in en vir een of ander rede maak dit my senuweeagtig. Dis amper so erg as wanneer jou kat op die badrand kom sit en jou stip sit en aanstaar en dan uiteindelik afbuk en van die badwater sluk. Disturbing om die minste kwyt te raak.

Die verdomde prinses


Alle families versamel stories so oor die jare heen. Gesegdes waarvan die oorspronklike storie so mettertyd verlore gaan, maar die uitdrukking voortleef in die dag tot dag gesprekke. So is daar 'n niggie Rooikat juffrou by ons skool gewees. As iemand baie juwele aan het, praat ons van die vrou wat landuit vlug en ons weet om nie te staan en knoppies druk nie. (Moenie vra nie)

So vertel my pa se familie van 'n verstandelik gestremde dogter van bure van hulle. Die meisie kon goed doen soos die skottelgoed was en die hoenders kosgee, maar dit was omtrent die eindpunte van wat aan haar toe te vertrou was. Maar sy was versot op stories en het graag geluister na wat ook al vir haar gelees is.

Eendag kry sy toe dit groot koperpot om te was. En die ding moet geskrop word en gebrasso word. Gespit en gepolish. Uiteindelik is sy toe klaar met die pot en hang hom aan 'n haak naby die stoof op, kyk hom so aan en sis toe vir die pot: "Toe, hang nou daar jou verdomde prinses!"


Ek het na ek hierdie enetjie moes skoon brasso baie meer simpatie met die potskroppende Aspoestertjie.