Saturday, February 20, 2010

Die verdomde prinses


Alle families versamel stories so oor die jare heen. Gesegdes waarvan die oorspronklike storie so mettertyd verlore gaan, maar die uitdrukking voortleef in die dag tot dag gesprekke. So is daar 'n niggie Rooikat juffrou by ons skool gewees. As iemand baie juwele aan het, praat ons van die vrou wat landuit vlug en ons weet om nie te staan en knoppies druk nie. (Moenie vra nie)

So vertel my pa se familie van 'n verstandelik gestremde dogter van bure van hulle. Die meisie kon goed doen soos die skottelgoed was en die hoenders kosgee, maar dit was omtrent die eindpunte van wat aan haar toe te vertrou was. Maar sy was versot op stories en het graag geluister na wat ook al vir haar gelees is.

Eendag kry sy toe dit groot koperpot om te was. En die ding moet geskrop word en gebrasso word. Gespit en gepolish. Uiteindelik is sy toe klaar met die pot en hang hom aan 'n haak naby die stoof op, kyk hom so aan en sis toe vir die pot: "Toe, hang nou daar jou verdomde prinses!"


Ek het na ek hierdie enetjie moes skoon brasso baie meer simpatie met die potskroppende Aspoestertjie.

No comments:

Post a Comment