Friday, February 12, 2010

Herfs 2008

Herfs 2008

Rooi drup die blare en vermeng
met goue kombersies op die aarde
terwyl bome hul bedekkings verwerp
sonder skroom sonder waarde

My gedagtes val self oor kontinente
deur die nou, dit wat was
en dit raak-raak versigtig
aan die moontlike 'wat as'

"Dis futiel", merk die boom op
vol kennis, vol weet
"Bind jou kop aan jou lyf
hou gedagtes diskreet"

En ek luister en weeg
daardie raad van 'n boom
wat kan weggooi die sorge,
die pyn en die droom

Ek bly staar tot hy naak
en yskoud voor my staan
Hou die herfs in my hart
laat sy wysheid vergaan

Op - en soms onder of agter - my bedkassie lê 'n swart ongeliniëerde gedigteboekie. 'n Hartsboekie. 'n Visuele dagboekie. Hierdie juweeltjie het ek vanmiddag heel toevallig opgespoor terwyl ek op soek was na iets anders. Destyds was dit dalk te persoonlik om op my blog oop te vlek. Maar tyd genees nie net alle wonde nie - dit maak mens ook maar meer gewoond daaraan. En later... later word dit draaglik.

No comments:

Post a Comment