Sunday, April 12, 2009

Twee weke in Maart/April

Genugtig! Wat 'n wonderlike, besige twee weke... Ruby en Deneys het by ons kom kuier - al die pad van die Kaap af. Vir Ruby was dit 'n werksreis wat 'n voordraai in Amerika gaan maak het en wat haar vakansie halveer het. Deneys se vakansie was dalk langer, maar defnitief vermoeiender. Sy voete het skaars grondgevat, of ons het hom saamgesleep na al die plekkies waaraan ons kon dink. Ons was in Vollendam en Marken, het die afsluitdyk bewonder en is as gevolg van die Garmin deur die middel van Amsterdam. Die volgende dag was daar geen rus nie, want ons is in Duitsland in en het 'n draai in Köln en 'n nadraai in Aachen gaan maak.

Mens sou nou dink dat jy na so 'n naweek 'n week van rus sou kry... Maandagoggend het ek hom saamesleep Leiden toe. Ek moes werk, maar kon geen rede insien waarom hy nie die ou waterstad kon gaan ontdek nie. Ek hoop hy het die treinrit darem geniet. Dinsdag het Rods ons Kinderdijk toe gevat en ons in Gouda agtergelaat oppad werk toe. Daar het ons die pragtige loodglas in die St Jans katedraal gaan kyk en ook 'n draai om die prentjiemooi stadsaal geloop. Ons het met 'n ompad Delft toe gery en ek het 'n ontmoeting tussuen Deneys en IKEA se frikkadelletjies gereël. Woensdag moes ons regtig hardloop, maar het betyds die trem stasie toe en dus die trein Brussels toe gevind. Na ek my bearings agtermekaar gekry het, is ons in die frilletjiestad in en het ons dit nogal geniet (wel, ek het - Belgiese sjokolade...).

Donderdag was een van daardie dae wat opstaan net moeilik was. Ek en Deneys sou Delft toe terwyl Rods sy vroeg-oggend verpligtinge in Rotterdam afhandel. Daarna sou ons hom in Rotterdam ontmoet vir die middag se tee. Om 'n lang storie kort te maak... ons was darem betyds vir tee, maar Delft is oorgeskuif na 'n ander dag. Terug in Den Haag is ons na Scheveninge om die sonsondergang te gaan kyk en om tussen die kunswerkies deur te loop. Vrydag was vir Rods 'n afdag. Ons drie is na Alkmaar se Kaasmarkt toe en het die middag in Amsterdam gaan ronddwaal.

Saterdag is ons Keukenhof toe. Selfs in sy vroeë stadium, was daardie tuine spectacular. Tussen die blomme kyk en foto's neem, het ons darem tyd gehad vir 'n warme beenham en kon Deneys sy eerste tulpeveld sien. Oppad terug huis toe, het ons by velde vol affodille en hiasinte verbygery. Blou en geel soos son en water.

Sondagoggend het Ruby se vliegtuig vroeg geland. Ons het in Den Haag rondgedwaal en gesorg dat ons nie te laat terug tuis is nie, want Maandagoggend is die twee Kapenaars douvoordag hier uit. Hulle trem was ongelukkig nie op dieselfde skedule nie en het tot gevolg gehad dat hulle verskillende tremme en busse moes benader om hulle by die regte plek in Dwingeloo te kry. Gelukkig het alles reg uitgewerk en ek het my laaste twee dae se bloeddienst afgehandel terwyl hulle meer van teleskope en woude en Nederlanders kon leer voor hulle Dinsdagaand weer huis gekry het.

Van Woensdag af is alles 'n blur, want ek het probere om Ruby se vakansie so vol moontlik te pak dat haar herinneringe kan volloop. Ons is Woensdag uiteindelik Delft toe. Ook het ons 'n draai in Gouda se museum en St Jans kerk gemaak. Ruby is ook sonder seremonie in IKEA ingedwing en is, soos ma, met ten minste drie items daar uit. Donderdag is ek en Ruby en Deneys terug in Dwingeloo se rigting. Ek moes op Utrecht vir ons ander treinkaartjies kry, want die goedkoop kaartjies is ongelukkig eers na 9 geldig. Maar eind goed, als goed. Ek het my sit en vergaap aan die teleskope in die oggendmis, die woud en die bome.

Terug in Den Haag is ons Madurodam toe. Die Liliput is vol skaalmodelle van bekende Nederlandse argitektuur en is tot laataand toe oop. Partykeer vat dit 'n klein dingetjie om mens skielik weer klein te kry. Wat presies is wat Vrydag gebeur het. Ons is die oggend gou weer Alkmaar toe en die middag in Amsterdam het Rods vir my spookasem (spinsuiker) van astronomiese proporsies gekry. Toe is ek skielik weer klein. Maar na die spookasem, is ek dalk groter as wat ek wil wees... In die ou stad langs die Amstel het ons rondgevaar en rondgedwaal en uiteindelik terug op die metro geklim om by die transferium ons kar te kry.

Gister het ons vir Ruby België toe gevat. Brussels is vol trappe en stegies en Rods het op mapmywalk gaan kyk hoe ver ons geloop het. Dit was 7.5km. Nodeloos om te sê dat ons redelik gaar was. Maar ons het weer die tuin met die twee onskuldige ter dood veroordeeldes gekry met die gilde-beeldjies rondom. Oppad terug kar toe, is ons verby die kunsmuseum. Ek het skuldig gevoel dat ek daarvan vergeet het die dag wat ek en Deneys daar was. Dink hy sou dit geniet het.

Vanoggend douvoordag is ons hier uit om ons twee vriende betyds op die lughawe af te laai. Oppad terug het ons deur Lisse gery. Die tulpe is nou amper amper oop. Ek wens ons kon hulle daardie velde oor 3 dae wys. Maar so is die lewe. Hulle sal maar weer 'n draai moet kom maak. Daar is nog gletsers om te sien, kastele om deur te loop en 'n vaart op die Rein. Daar is Italië en Spanje en Frankryk. Ek dink julle moet maar hierheen trek.

No comments:

Post a Comment