Wednesday, August 12, 2009

Monster met tande

Ons het Sondag gaan fietsen. Thinus het ons kom haal met sy nuwe fiets wat hy en Rods amper op die Duitse grens gaan haal het. Ek ry mos 'n silwer Jaguar (die fiets, nie die kar nie) en Roderick 'n mooi rooi bergfiets met shocks vir die voorwiel. Sy fiets moes eintlik geel gewees het, want dis 'n lemon daardie. Eers het hy die saal weggesit. Toe knak die handlebars agv 'n skroefie wat losgeraak het. Op ons Sondag uitstappie, is my rugsak dus verder verswaar met twee shifting spanners en 'n skroewedraaier. Gelukkig het Rods besluit om die meeste van die pad te dra.

Ek het gedink ons gaan net Kijkduin toe, maar toe ons eers daar is, ontdek ons hierdie pragtige paadjie tussen die duine deur in Monster se rigting. Toe ry ons maar daarheen. Wat 'n goeie ding was, want langs die pad het ons Afrikaans gehoor, 'n U-turn gemaak, met die mense gaan gesels en uitgevind dit is twee vrouens wat by die ambassade werk. Handige mense om te ken. natuurlik het ons email-adresse uitgeruil en nou is ons uitgenooi na 'n SA-Braai vroeg September.

Van Monster terug na Den Haag het Rods se saal weer begin wegsak en hy het die bout bietjie te styf gedraai (nogal net na Thinus hom gemaan het dat ons regtig ver van die huis af is en hy die ding nie moet strip nie). Toe sak die saal tot heel onder en tol in die rondte. Ek bied toe uit die goedheid van my hart aan om die plat fiets te ry en het dit volgehou tot digby Den Haag voor Rods gekla het my fiets maak hom so seer dat hy liewers met syne sal loop as verder op myne ry. Gelukkig is ons toe digby die omdraaipunt van die Nr 3 trem en kon hy so huistoe gaan. In totaal het ons so 21.6km gery teen 'n gemiddelde spoed van 17km/h. Dit weet ek want beide Rods en Thinus het iPhones en diƩ kan jou track. Thinus het ook 'n spoedmetertjie op sy fiets.
Nou dat ons so 'n goeie afstandjie gery het, sien ek kans vir Delft toe ry komende naweek. Ek moet net my agterent kans gee om weer te herstel. Ek sweer my fietssaal het tande. Selfs Rods het na ons rit gewonder of ons nie moet apteek toe gaan en kontsalf vra nie. (Dis boude in Nederlands!) Synde die 'n fietsryende nasie is, sal ek nie verras wees as hulle dit wel het nie. Mind you, na ek net 'n panado gekry het vir my operasiepyn, sal ek ook nie verras wees as hulle dit nie het nie. As mens so van kleintyd af al fietsry, het jy seker 'n agterent van pure leer.

Gisteraand het ons gaan bobotie eet by Thinus. Dit was absoluut heerlik. Dit was selfs die ekstra bytmerke van daardie monsterse saal van my werd.

No comments:

Post a Comment