Ek was teleurgesteld, want die fair is omtrent 'n maand voor die tyd al bemark en ek het uitgesien na... seker maar 'n kerkbasaar. Met gehekelde goed en 'n gebak tafel, na kerrie-en-rys en selfgemaakte speelgoed. Op die ou end het my 3 euro toegangsgeld my gelei na tupperware (regte tupper!) en orange sokker memoribalia. Daar was geverfde keramiek en winkel-speelgoed vir kinders. Teen die kant van die huis was daar koffie en tee en bietjie gebak en poffertjies. Dit was dit.
Die loop om die huis het ou herinneringe oopgekrap. Ek kom mos van 'n plaas af. Lank lank gelede. En die kinders se gespeel op die lusernbale het my en my neus baie duidelik weer laat onthou. Selfs die vlieë om die kalfies se neuse was bekend. Bo in die dak van die stal was 'n swaeltjie (swaleeuw) nessie. Nie die kruikvorm soos ons hulle ken nie. Die een het 'n kelk - 'n V - na bo gemaak. Boerenswaleeuw het die eienaar aan my verduidelik en toe genoem dat mens in Nederland ook huis-swaleeuws kry.
Ek het rustig verder gedwaal. Deur die perdestalle, die melkstal, die koeistalle waar twee ver dragtige koeie rustig gewag het om van hulle las ontslae te raak en buite in die kampie vir die perde gaan hallo sê. Ons het net toe ek baie klein was perde gehad. Dit is dus 'n dier wat ek pragtig vind, maar nie so heel selfversekerd by is nie. As ek aan die saal vashou, kan ek gewoonlik bo-bly. Hulle is egter vir my mooi genoeg dat ek nie paardenvlees sal eet nie. Die een het my toegelaat om sy neus te vryf voor hy aan die heining begin knibbel het. Ek het daai lang geel tande so gekyk en toe maar op 'n veilige afstand gaan foto's neem.
Dit was dit. Voorschoten (Voorsgooten uitgespreek - nie soos die Engelse dame wat my gevra het oor 'Wershouten' nie) se Farm Fair.
No comments:
Post a Comment