Thursday, May 8, 2008

Wanneer jou neus onthou

Sonsondergang - 8 Mei 2008

Vandag in 'n supermark is ek deur my neus na 'n vaag onthoude geur gelei. Tussen die blomme deur, verby die Baberton daisies (wat na niks geruik het nie) verby die mengselbosse (wat na nies geruik het) verby die rose en tulpe (drie bosse vir 5 euro) na die vier kleinerige bossies pronk-ertjies. En sonder keuse, sonder waarskuwing, sonder voorbereiding was ek skielik weer 'n tweedejaar wat moeg van die middag-prakties af terugkom by die woonstel om 'n onverwagte, maar baie waardeerde pakkie in my wasbak te vind. 'n Sekonde of twe was ek weer 'n blosende langhaar tiener wat die bossie blomme in 'n waterglas na haar kamer gedra het. Vir 'n rukkie was ek weer herinner aan my drome van toe en aan die sorgelose dae van kennis oor mense, dinge en selfs bietjie akademie in my kop inkry. Was nogal lekker; die nostalgie.

Was ook lekker om terug te keer na wie ek nou is. Met wat ek nou weet. Was goed om te weet dat my sintuie en geheue darem nog werk hier op my oudag :) My bene ook. Ons het vannaand die Den Haagse koopavond gaan geniet. Al die winkels bly tot 9uur toe oop. Dis heerlik, maar dit verloor 'n bietjie van sy charm as dit son eers half 10 ondergaan en die koopavond meer na 'n koopmiddag voel.

My probleem is dat ek so gekondisioneer is dat as dit donker raak, my maag my daaraan begin herinner dat hy nog daar is. Nou, wanneer die son sak, is al die winkels lankal toe en kan mens nie eens 'n koeldrankie iewers koop nie. As dit so aanhou sal ek met 'n horlosie moet begin rondloop. Wat 'n wrede gedagte! En nes ek my maag oorreed het om na die horlosie ipv die son te luister, is dit winter en sak die son al net voor 4. Chaos, chaos chaos... My arme maag.


Tuesday, May 6, 2008

Te voet

Noordsee. Branderloos. Yskoud. Pragtig.

I'll take the high road and you'll take the low road...
ek vat die port kat en jy vat die pang lat...
Die seuntjie met sy vinger in die dyk by Madurodam



Brandnetels
Vredespaleis Den Haag

Monday, May 5, 2008

Die land van Honing en halfvolle melk

Die winkels hier het nie die verskeidenheid waaraan ek gewoond is in SA nie, maar hulle is baie interessant. (Interessant: een rok, twe skoene) Die volroom (volle) melk is bietjie duurder as die halfvolle melk wat natuurlik weer duurder is as die magere melk. Heuning is volop en ek kon nie die pot met die bloemen honing weerstaan nie. Bloemen land met hulle bloemen snaakse name vir bloemen gewone kos wat hulle in keukens gaarmaak.

Wanneer mense aan Nederland se kos dink, skat ek stroopwafels is die eerste gedagtes. Na dit baklei poffertjies en wafels (hoewel meer Belgies in oorsprong) seker vir tweede plek. Maar ek reken die lekkerste ding wat ek hier tussen my tande en tong kon kry, was 'n pannekoek. Die deeg-resep lyk my het eeue terug presies net so SA toe getrek. Die voorbereidingsmetode het egter agterweë gebly. Het nou die dag savoury pannekoeken bestel. Toe dit opdaag was ek redelik verbaas om 'n groot plat bord gevul met 'n ewe groot plat middagete te kry. Die kok het duidelik die ham, uie en sampioene eerste in die pan gegooi en dalk 'n bietjie gebraai voor hy die deeg bo-oor alles uitgegooi het. Na dit gaar geraak het, het hy die stukke kaas net bo-op gesit en toegelaat om te smelt. Yum-yum. Lyk my die soet pannekoeke word op die meer tradisionele manier voorberei. Dink nie gebakte piesang lyk so leuk nie.

Op die oomblik is my lewe nie so opwindend nie. Die dat ek nou al by resepte trek. As dit so aanhou, kry julle een van die dae breipatrone...

Saturday, May 3, 2008

Valkenboskade

Aan die sonkant van die huis het ons lekker breë vensterbanke.

Work in progress
Die vorm waarin ons ons meubels kry. Mooi plat om agter in die kar se 'boot' te pas. Die Nederlanders noem die kattebak 'n gulp...
Glo dit of nie. Die is 'n werkende rekenaar :)

Friday, May 2, 2008

James Blunt en die bubblebath

"Al sê jy my songs maak jou blou, al lag jy vir my in jou mou..."
- Steve Hofmeyr se My Diefie my Duifie liedjie

Wanneer ek so aan die blou kant is, hou ek van tranetrekker-liedjies. Ek luister aandagtig na die woorde en sing nog luidrugtiger saam as ek hulle wel ken. Dit help my net so vinnig uit die depro uit as wat tee of 'n bad sou doen. As ek 'n dokter was, het ek net disprins voorgeskryf. Daardie goed is sterk genoeg om selfs 'n gebroke hart se pyn weg te vat. Saam met die pille sou ook 'n koppie tee (Engelse tee, maar as jy dan nou moet ander variate ook) en 'n diep, lang warm bad op die doktersbrief wees. When all else fail, hou ek vir Slaap (die wondersoete ding) in reserve. My voorskrif sou dus min of meer luit: Gaan lê in 'n diep warm bad, luister na 'bad elevator music', drink tee, drink 'n disprin as dit nodig is - en bel my môreoggend.

Praat van tranetrekker-liedjies. Wat is dit met James Blunt en sy te-klein-onderbroek-stem wat my so intens na sy lirieke laat luister? Het nou al vandag deur al die youtube videos gegaan. En hoekom kom sangers daarmee weg om hulle heel diepste heel seerste heel weerlooste gevoelens sommer so oop en bloot voor ander se voete en ore neer te gooi sonder dat hulle klaarblyklik daardeur geaffekteer raak? Goeie magtag, hoeveel mense kan -met 'n bietjie selfrespek- na iemand sit en kyk en die volgende kwytraak?

"I'm watching you breathing for the last time"

Of as jy dan nou nie lus is om iemand se laaste asemteue te besigtig nie, wat van die harverskeurende openhartigheid in Goodbye my lover?

" I am a dreamer and when I wake,
You can't break my spirit - it's my dreams you take.
And as you move on, remember me,
Remember us and all we used to be
I've seen you cry, I've seen you smile.
I've watched you sleeping for a while.
I'd be the father of your child.
I'd spend a lifetime with you.
I know your fears and you know mine.
We've had our doubts but now we're fine,
And I love you, I swear that's true.
I cannot live without you"


Daar is baie waarsonder ek kan lewe, maar soppy musiek, blyk nie een te wees nie. Hoop James bly openhartig en 'blunt' in sy lirieke. Dit raak ten minste 'n snaar hier. Dink ek moet sommer vir Billy Joel en Neil Diamond ook uitgrawe na ek die ketel aangesit het. Dan kan ek rustig hier sit en waddle in my mysery. Of dalk moet ek net gaan bad. Gonna soak that man - lyrics and all - right out of my head. Hmmm, tee, bad, en Mr Blunt ....... Will call you in the morning. Hou maar vir my 'n disprin gereed.


Thursday, May 1, 2008

Wag net 5 minute - en begin weer

Ons het op skool vir die meisie gelag wat gebid het "Gee my geduld asseblief, maar gee dit nou." Ek moes van beter geweet het toe ek vanoggend so gekla het. Ons het mos laasjaar al op die houdluiperd-toer vasgestel dat as mens nie van die weer hou nie, jy net 5 minute moet wag of 5km moet ry. Vandag was toe verder glad nie so erg nie.

Met 'n hele kattebak (die Hollanders noem dit 'n gulp...) vol goed is ons na ons nuwe plek toe en ek het actually self die twee badkamerkassies aanmekaar gesit. Die Nutsvrou, ek. Ons het ook 'n tafel met vier stoele in 'n plat boksie gekry. Dit was nogal amazing om te sien hoe vinnig my man die affêre aanmekaar kon kry. Daar is regtig 'n vreugde daarin om jou eie meubels te maak. Ok, om hulle aan mekaar te sit.

Nou het ons 'n opgeblaaste bed in ons kamer. Die regte een kom oor minder as 'n maand - hoop ek - saam met 'n hele wall unit. In die sitkamer is 'n klein vierkantige tafeltjie (waarop die laptop vir ons musiek maak terwyl ons timmerman speel), 'n groter langwerpige een met vier stoele, en twee staanlampe. Die badkamer het 'n staande kassie met 8 handoeke op en 'n lêende kassie wat wag vir muurskroewe.

Van die klomp vertrekke lyk die spaarkamer en kombuis seker die beste. Die spaarkamer het mos propvol kaste gekom. Daar is amper plek vir 'n enkelbed. Die kombuis het ons s'n geword met 'n stoof en skottelgoedwasser in. Ruby het eendag gesê met 'n skottelgoedwasser is mens heeltyd op honeymoon. Sal die waarheid daarvan binnekort toets. Ek het vanmiddag al ons glase en borde en die Keuken-starterkit uitgepak. Nou is die plekkie sommer al heelwat voller en die eggo's heelwat minder.

Toe ek netnou kom sit het om my blog te skryf, wou ek eintlik oor tweede kanse skryf. Van mens begin redeneer, wil mens graag tweede kanse hê. Hoop mens soms op 'n tweede kans en wens jy dat jy 'n kans het om oor te begin. Ek kan die storie nou uitrek met staaltjies van kleintyd se kunsklasse, maar ek is seker jy volg die denkpatroon. Hier sit ek nou in Holland en het 'n tweede kans; het 'n kans om oor te begin. Ek het daardie kans om my huis van voor af te beplan en vol te maak. Daar is die reuse moontlikhede voor my om my loopbaan oor te begin. Daar is 'n kans vir my en Rods om van voor af te besin en begin. En gaan ek die tweede kanse gebruik? Oh yes!

In Jhb het dit vir my begin voel die hoeveelheid goed wat ek het, kniehalter my. Ek moes worry oor die honde en die kat. Het hulle kos, het hulle water? Wanneer laas het ek met hulle gaan stap? - die honde, natuurlik. Haar majesteit Umbra hou haar nie op met 'n stappery nie. Wanneer gaan my kar gestamp/gesteel word. Wie wil my handsak gryp? Wie wil my TV/haardroër k0m wegdra? En so aan en so meer. Toe verkoop ons die huis met alles in hom en skielik is ek vry.

Met my Kaap-vakansie was ek vir die eerste keer in baie jare regtig ontspanne. Jobless, homeless, worryless. Die feit dat ek op vakansie was, het natuurlik baie bygedra tot die sorgvrye gevoel. Maar aan die einde van my vakansie het ek met Hennie, wat 'n jaar op Marion eiland deurgebring het gepraat. Daar het jy nog minder verantwoordelikhede en as jy terug in die 'beskawing' is, onthou jy dit. Dan weet jy dat al jou verpligtinge (betaal die W&E, koop die groceries, gaan haal jou kind by die rugby) selfopgelegd is. En dan knel dit jou eers!

So, wat is die oplossing? Raak 'n hippie? Moet sê, die kleurvolle rokke en die lang gevlegde hare is tempting, maar die min bad.... Jiggie. So wat is die oplossing? Nee ek sal ook nie weet nie. Dalk moet jy maar vyf minute wag...

When we were small and Christmas trees were tall

"... Now we are tall, and christmas trees are small,
And you don't ask the time of day.
But you and I, our love will never die,
But guess we'll cry come first of May

Dont ask me why, but time has passed us by..."

Bee Gees liedjie First of May uit die jare toet. Weet nie hoekom dit vir my so roerend is nie.

My wyse vriendin in die Kaap sê mens moet so dan en wan jou ou dagboeke lees sodat jy kan onthou wie jy was. Ek het vandag, na twee weke in my nuwe land, nodig om te onthou. Miskien is dit die weer. Vandag reën dit so 'n mistroostige nat reën. Ja, ja ek weet alle water is nat, maar hierdie reën is vaal en mismoedig en ek dink ek wil terug in my bed inklim.

Ons moet vandag vir ons nuwe plek nog meubels gaan koop. Dink ek het onlangs 'n lysie gepost oor wat ons nou al alles het. Dit was 'n redelike kort lysie. Ons wag nou maar geduldig vir ons SA-huis se geld om oor te betaal sodat ons al die groot goed kan gaan kry. Dis nou beddens, yskas, tuimeldroër, wasmasjien, banke en so aan. Vandag kry ons die (plat in 'n boksie) tafel en stoele by Ikea. Dit behoort die hele agterkant van Thinus se kar vol te lê. Ek wonder nog steeds hoe die mainbrain agter Ikea besluit het dat alles in plat boksies moet kan pas. En wie die bright spark was wat besluit het dat alle aflewerings in Nederland net tot by die voordeur gemaak word...

Mens sou sweer dis al weer volmaan. My oë bly oopgaan en frankly, die kamer waarin ons slaap, is nou nie eintlik so intressant nie. As ek daarmee kon wegkom, het ek Ikea vir vandag uitlgeos en rustig weer in die bed gaan kruip. Dan kon ek dalk vannag heel uitgerus die plafon lê en bestudeer het. Maar helaas... ek sal maar my skoene moet gaan soek.

Vandag is ek morbied. Dink aan vreemde quotes wat ek die laaste tyd gehoor het. Die Nederlanders reken as mens jou agterent verbrand, moet jy bly wees jy het nie andersom gestaan nie. Uit SA kom 'n onlangse onverwagte maar onomseilbare redenasie dat jy versigtig moet wees en mense so moet liefhê dat jy hulle nie seermaak nie. Die Chinese reken verder dat dit wat jy nie vir jouself toewens nie, moet jy ook nie na ander moet uitstrek nie.

Hierdie skrywery raak nou bietjie diep vir my. Sal wanneer die son weer skyn en die hart weer ligter is, my vingers op die keyboard sit.