Tuesday, July 15, 2008

Foto's van Antwerpen

Die groot katedraal. Kyk na die vierverdiepinggebou voor dit vir skaal.

Een van die kleiner deure van die katedraal. Ek is 1.65m lank.

Van al die dinge wat ek al op 'n fiets gesien het, vat die klavier die eerste plek.

Dit is die treinspoor. Mens moet jou hoed afhaal vir 'n nasie wat selfs 'n treinspoor so mooi kan maak. Die hele spoor lyk soos 'n kasteelmuur met brûe en toringtjies elke paar 100m.

Nee, ek weet ook nie. Dit lyk of 'n naakte prinses Leia 'n mieliestronk vir 'n bokkie gee.

Kyk na die detail op die geboue.

Die stasiegebou. Die Belge praat van die cathedraalstasie. Dis ongelukkig onder konstruksie van buite, so ons kon nie 'n mooi foto neem nie. Volgende keer.

Monday, July 14, 2008

Wat ons benodig

Uiteindelik. Ek dink ons het nou alles wat ons nodig het. Dit beteken natuurlik dat ons nog nie naastenby alles het wat ons wil hê nie, maar ten minste kan ons nou gemaklik op daardie dag wag. Terwyl ons wag, werk ek al die TV-reekse deur wat ek gemis het - en mis sodoende die huidiges. Tans kyk ons 'Angel'. Ja ek weet. Gooi maar klippe...

Wintersdagboek

Wintersdagboek

Hoe kaal staan die bome

En yler die gras

Hoe grou word ‘n kouer hemel gewas

As die najaar gedwee verval tot

Die grys onverbiddelike dae in mei


Hoe moeg van reis en droom was ek

Te veel het ek trotseer

‘n swerwerster verskiet tot niet

As vriendskap rus na jare bied


En Junie se swartryp was ‘n warm karos

En geraamtes van bome was ‘n landkaart wat bros

Teen die wolke versprei en ons vrae verklaar

Ja die winter was tydlose dae

Kosbare dae


In Julie se kaggel en vretende wind

is die somer se soelte in vriendskap gevind

Was die rooiwyn belee na ure se weef

Aan die drome wat more sou leef


Maar illusies en ambisies vrek

Soos die jare kom en gaan

Word drome ook soos bronsbeslaande skoene

Op ‘n rak geplaas


Vandag lê die winter veel dieper in my

Vandag lê die vlaktes kaler gewei

Maar augustus se winde wat troosteloos maal

Het die lente dalk iewers gaan haal

- Johan Horn

Sunday, July 13, 2008

Antwerpen


Ons het gister in Antwerp/ Antwerpen deurgebring. Dis die naaste groot Belgiese stad aan Nederland se kant. Die plan was om vroegoggend al op die trein te spring, maar 8:30 moes noodgedwonge 9:30 raak en ons moes nog steeds hardloop om op die oorvol trein te spring. Gelukkig het ons in Den Haag al opgeklim, want teen die tyd dat ons by Roosendal gekom het, was die trein heel vol en die mense moes staan tot in Antwerpen.

In Antwerpen aangekom, het ons die gewone roete (reguit na die eerste WC) gevolg voor ons die stad gaan explore het. Dis stad is, soos meeste Europese stede, oud. So oud dat die jare soos 'n gewigtige kleed daaraan kleef en klou en op jou neerdruk tot jou insignificance bietjie te duidelik begin raak. Die geboue is hoog en gedetaileerd. Rods belowe my foto's wat ek in 'n apparte blog sal post.

Dit is wat my die meeste van Antwerpen geraak het. In plaas van net 'n raised trein-paadjie bou, het hulle die moeite gedoen om die hele gedeelte soos 'n ou kasteelmuur te laat lyk. Daar is parapets en arches en allerhande ander woorde waarvan ek nie nou die mooi Afrikaanse weergawes kan onthou nie. En dis net die treinspoor!

Twee jaar terug toe ons deurgery het Brussels toe, het ek die toring van die Cathedraal van onse Vrouw gesien uitsteek. Ek wou toe al Antwerpen toe. Die katedraal is op die foto's, maar oor dit foto-size is, lyk dit klein en nie naastenby so hoog soos die meer as 100m wat dit in die werklike lewe is nie. Dit het selfs nog meer detail as die gewone geboue op straat wat al klaar versier is met beeldjies en carvings en goud-geplatteerde goedjies. Ek weet nie of dit die Franse invloed is nie, maar die geboue is absoluut amazing. In die katedraal is daar skilderye teen die mure en dak deur Rubens, maar in ons omwentelinge het ek gesien hy is eintlik in 'n ander kerk-grond begrawe. Dit was vir my bietjie odd.

Mens kan natuurlik nie België toe gaan sonder om hulle sjokolade te beproef nie. Dis dan waarvoor hulle beroemd is. Word of caution though. Moenie hulle suikerlose sjokolade probeer nie. Hulle haal eenvoudig die suiker uit, dan kry jy lekker bitter sjokolade. Mind you, haal 'lekker' uit daardie laaste sin uit. Ok, dit was seker nie so sleg nie, maar ek is nou al lankal op diëet en het uitgesien na 'n dag van oordadigheid en, above all, soetgoet. Ek moes toe maar my craving gaan blus deur lekker roomys en hot chocolate. Dit was ten minste die moeite werd.

Ons het vreeslik ver geloop gister en het gisteraand by Thinus gaan aandete eet. Ook dit was natuurlik lekker en ons het eers na 2 hier by die huis ingewandel. Wat beteken dat ek vanmiddag eers wakkergeraak het - voetseer, maar gelukkig. Ek moet regtig na my linkervoet laat kyk. Anderdag.


Monday, July 7, 2008

'n Liedjie vir jou

‘n Liedjie vir jou

Ek dink vanaand aan jou en aan die Wildekus se golwe.

Ek dink vanaand aan jou en aan die eindelose strand.

Ek dink aan rotskastele, watervalle na benede,

En beestepaadjies sukkel oor die rand.

En, ek wens dat ek my liedjie vir jou kon sing.

En ek weet dat jy die woorde sou verstaan.

Ja, ek wens dat ek my liedjie vir jou kon sing,

En ek weet dit sou weer ‘n vonkel in jou oë bring.

Ek dink vanaand aan jou en aan die Visriviervallei.

Ek dink vanaand aan jou en aan sy kronkel-kronkel-kronkel.

Ek dink aan stroomversnellings, aan die koue winternagte

En kampvuuraande op die goudgeel sand.

Ek dink vanaand aan jou en aan die blou-blou Kaapse berge.

‘n Sprokiesland in bleekwit op ‘n helder sterligaand.

Ek dink aan waterpoele, wit proteas teen die hange.

Maar somtyds, vir ‘n oomblik, net aan jou.

- Jannie du Toit

Thursday, July 3, 2008

Witgoed


In die winkels word van kombuismasjiene as witgoed gepraat. Ons s'n het uiteindelik opgedaag!! Gister het die wasmasjien, tuimeldroër, yskas, mikrogolfoond en TV versigtig hier teen ons steil trappe opgeklim en in ons kombuisie tot ruste gekom. Op die foto is nog die blou cooler box wat ons tot nou toe as 'n yskassie gebruik het. Na alles uit hom in die yskas ingepak is, het dit maar verdwaald gelyk in die groot spasie. Niks soos witgoed om mens bietjie perspektief te gee nie. Ek dink nie ek was al ooit so bly om 'n wasmasjien te sien nie.

Deel van die werkersklas

Ek het werk gekry!!!! Vrydag se lang onderhoud was toe nie verniet nie. Maandag het hulle vir Juan-Marié gemail ivm met werksondervinding en geskiktheid vir labwerk en Dinsdag het hulle my gebel om my die baie goeie nuus mee te deel. Die werk is by die Leidense universiteit se mediese afdeling. Afdeling genetika. Soos ek dit verstaan, gaan ek saam met die groep wat op dermkanker navors, werk. Deel van die werk is hematologie vir die hospitaal. Ek kan nie wag nie. Al die blood and gore (and worse...)

Nog goeie nuus is dat Rods die 30% tax ruling gekry het. Dit beteken vir die volgende 10 jaar betaal hy 30% minder belasting as gewone Nederlanders. Dit beteken ook ons hoef nie die 2000+ euro elk op te dok vir bestuurslisensies nie. Hoef net ons s'n te gaan inhandig en omruil. Ek kan daarmee saamleef. Goed daarmee saamleef veral terwyl Zarina reken ek kan ook daarvoor aansoek doen...

Ek hoop Ingrid, wat vir 'n paar weke in Engeland is, kan oorpop vir 'n hallo en bietjie kaas. Ons sou daar gaan kuier het, maar Brian in York kan ons nie nou huisves nie. Dis jammer, want ek was lus vir vis en chips in die Shambles. Maar dalk sien ons haar nog en hom later die jaar. Ek hoop so.

Wat het nog als die week gebeur? My familie kuier lekker in die kalahari en eet seker elke dag biltong en lekker karnivoriese maaltye terwyl ek en Rods op Weigh Less kos eet wat, soos Rods se pa dit mooi gestel het, "That's not food. That's what food eats..." Maar so ver (en met die paar dae van maaggriep) het ons nou al 9kg verloor. Dis saam. Ek het al 4 verloor. Dis 8 pakke botter as mens so daaraan wil dink.

Tannie Max het geval en haar heup gebreek. Ek het baie geworry, want sy is nie meer 'n kind nie, maar sy is vroeër die week geopereer en Deneys sê dit gaan goed met haar. Ek dink dit gaan nou ekstra goed met haar terwyl hy die naweek Bloem toe. Ek is sommer nostalgies. Wil ook Bloem toe en my ma se kos gaan eet. Sy het 'n hoendergereg waarvan die gedagte my nou amper in trane het. Mens kan sien ek is op 'n diëet.