Sunday, July 19, 2009

My sparklies

Die groen malagiet-hangertjie het Roderick vir my by die Grahamstadse kunstefees gekoop nog voor ons getroud is. Dis nou ook al 'n paar jaar terug. Die pragtige filigree hangertjie voorop, is uit Israel en sover ek weet, is dit Israeliese jade daarin. Maar ek praat onder korreksie.

Alles en nog wat. Die hangertjie met die snowflake obsidian is van Madri. Die hematiet hangertjie met die kruis is in Johannesburg gekoop terwyl die mooi Afrika-motief een 'n geskenk vir my 31ste verjaarsdag was van Ruby en Deneys. Die plain hematiet hangertjie kom van Bloemfontein se kunsmark af.

Something old, something new. Die hangertjie het ek die naweek weereens by 'n vlooimark by 'n Indiese man gekoop. Dit maak nie vas nie, maar haak net om jou nek. Die armbandjie is filigree silwer, maar ek het die steen se naam vergeet. Dit is uit Israel en was eers Roderick se ma s'n.

Die vrolike kraletjies, is van Juan-Marie en is heerlik vir Nederlandse feeste. Die kruisie het ek nog as student by Topics gekoop en die katoog-armbandjie hier in Nederland. Die lang hangertjie, is stukkies glas wat ek 'n paar jaar terug op 'n vlooimark gekoop het met die idee om dit vir Nicolene te gee om vir my iets moois mee te maak. Tot ek eendag by haar uitkom, dra ek dit net so. Die hangertjie met die vier druppeltjies het ek Saterdag vir 'n euro by 'n straatmark voor Lidl raakgeloop.
Die vrolike blommetjies kom uit die Chinese vlooimark (Asian city) in Bruma (Johannesburg) die middelste armbandjie is my gunsteling stuk juweliersware en is 'n geskenk van Roderick se ma. Dit is meksikaanse silwer met granaatsteen. Die onderste een is 'n katoog-albaster.

Die reguit tieroog armbandjie is op ons wittebrood in die Krugerpark gekoop, die bosserige tieroogarmbandjie kom vanaf 'n straatstalletjie in Brussels. Die twee sonsteen hangertjies is van Nicolene en die groot skitterende stuk in die middel van die Haagse markt.

Pearls of wisdom. Meeste van die is deur Nicolene vir my gemaak, maar my trou-pereltjies is ook daar tussenin. Die mooi gekleurdes is van twee Saterdae gelede se kunstmarkt in Fahrenheitstraat.

Oorbelletjies. Die olifantjies is van Madri van 'n tyd voordat sy self begin juwele ontwerp het. Die roosmaryn-klippie is al wat ek oorhet van 'n koppie vol klippies wat ek destyds op die Bloemskou gekoop het.

'n Gold-plated regte akkertjie van Kew-gardens in London. By Jonathan gekry en ek dra dit bitter selde oor dit so breekbaar pragtig is.

Simbool van my liefde.

Mens sou dink dat die blink en vrolike goedjies stilsit en dus maklike teikens is vir fotografie... Watwou! Maar hulle is lekker om mee te speel, lekker om uit te kies, lekker om te dra en lekker om te fotografeer. My preciousenesses

Saturday, July 18, 2009

Verlange na 'n klavier en sy speler

Ek mis vandag 'n klavier. Nie net 'n keyboard nie. 'n Volledige gewigte klavier wat die voorportaal vol staan. 'n Klavier waarop ek my buie kan uitspeel. En ek mis my ma wat ook haar buie op die klawers uitgehaal het. Ek dink aan Chopin se Waltz no. 1 in Eb, Op. 18 en aan Die slawekoor van Nabuko wat my ma so mooi kon speel. Ek dink aan nog 'n Chopin nommer So deep is the night (Etude, Op. 10 No. 3 in E Major) en aan hoe sy as sy kwaad was Jesus neem die kleine kinders gespeel het. Gisteraand is die derde aand in 'n ry wat ek van haar droom. Dis nou al meer as twee jaar wat sy oorlede is. Die gemis raak minder, maar soms bereik dit weer 'n piek en ek weet dat hoewel ek self 'n klavier mis, dit my ma se hande daarop is wat vannaand die middelpunt van die verlange is.

Thursday, July 16, 2009

Kapoet

"Ai ek voel so lam en tam, so lam en tam, so lam en tam
Ai ek voel so lam en tam van al die was en hare kam"

Ek dink dis 'n aanhaling uit Boegoeberg se dam - wat volgens die liedjie 'n doodlekker (of volgens my kleinboet 'n dodelike) dam is.

Selfdiagnose is 'n gevaarlike speletjie. Ek weet nou al vir meer as 'n maand dat daar fout is met my. My maats en familie sal my nou vertel hulle weet dit al vir jare. Maar ersnstig nou. My maag is seer. Hy brand so 'n bietjie. Die res van die maag-area is teer. Ek kry krampe in my kuit, my voete brand as ek meer as 100m loop, daar is steekpyne in my arms en my rug bly uithaak, maar lg is normaal. My een knie en ander enkel raak heel pynlik as ek aan die loop kom. en my linkerarm en -been tingle en needles en pins as ek op my maag rus. Verder is ek ongelooflik bleek, kry so dan en wan 'n persoonlike hittegolf en dink aan naar raak (overgeven noem die nederlanders dit). En ek is moeg. Doodsmoeg - of is dit nou lewensmoeg? Plus hierby nog dat ek huilerig, uitgestress, kort van draad en slaperig is, en ek op my eie is genoeg materiaal vir 'n meestersgraad tesis.

Natuurlik het ek al my simptome in Google gaan intik. Volgens die slim omie kan ek enige van 'n klomp onuitspreekbare meestal genetiese siektes, tot depressie tot burn-out onder die seer knie he. Daar is selfs 'n paar opsies vir die beter knie - soos ystertekort byvoorbeeld. Na al die wyshede van die internet, het ek myself gediagnoseer met ystertekort en as gevolg daarvan 'n bietjie burn-out - maar net 'n bietjie... hoop ek.

More maak ek 'n draai by die dokter. Die afspraak is al twee weke gelede gemaak om moesies onder my arm af te vries. Skeer raak interessant so al om hulle. Ek wil sommer dat hy na van die in my nek ook kyk. Hulle het van kleur verander en ek is bietjie paranoies oor ek al soveel keer verbrand het. Darem net bruin en pienk ipv die regtig gevaarlike bruin en swart. Waarby ek eintlik 'n paar sinne gelede al wou uitkom, is dat ek die arts gaan vra om sommer 'n ystertoets ook te doen.

Dan weet ek.

As ek reg was, kan ek myself op die seer skouer klop en wonder waarom ons nog dokters aanhou (behalwe dat hulle moesies afbrand en yster toets). Is ek nie reg nie, sal ek seker maar van voor af vir oom Google gaan deursif vir 'n ander geinspireerde selfdiagnose - of dalk net die keer reg van die begin af die dokter vra.




Tuesday, July 7, 2009

Julle wil wat?

Ek het vandag 'n gesprek met die narkotiseer gehad. Dit was insiggewend en angswekkend. Die hele proses is mooi aan my verduidelik. Eers is ek vertel ek moet nugter daar opdaag. Nadat ek begin giggel het oor Dutch Courage het ek besef die vrou praat van 'n nugter maag. Ek mag wel helder vloeistowwe drink: water, tee sonder melk, maar wel met suiker, appelsap. Na die gesprek dink ek heel ernstig aan die feit dat vodka ook helder is... So much vir nugter.

Hulle gaan my narkose en 'n spierverslapper ingee. Dit laat my dink aan die quote van never drink a laxative with a sleeping pill... Die spierverslapper is so sterk dat dit nie net my bene, maag en arms pap gaan maak nie, maar ook my longe gaan laat ophou werk. Oh joy... Terwyl 'n masjien dan deur my keelgat vir my moet asemhaal, kry ek 'n kateter, 'n gat in my vinger om suurstof in die bloed te meet en drie gaatjies in my buik. Deur die gaatjies word my maag dan opgeblaas. Hulle wil natuurlik sien of ek darem op estetiese vlak die mas sal opkom as swanger vrou. Terwyl ek dan daar met my bollebuik slaap, gaan hulle allerhande toetse doen, gaatjies druk en vir my bloukolle besorg. In die proses, so het hulle belowe, sal hulle probeer om my kroon (die een in my mond) onbeskadig te hou. Om een of ander rede troos dit nie. Ek moet ook nie worry as my boep na die tyd nog wie weet waar staan nie - hulle probeer meeste van die gas vrylaat, maar as dit nie geluk nie, behoort dit na 'n dag of drie te sak.

Na die hele vertelling, word ek toe gevra of ek senuweeagtig is! Angsbevange, siek geworry, bloeiende maagseer stres, demmitm wat dink hulle? Natuurlik antwoord ek toe nee. My ma maak mos nie openlike lafaards groot nie.

Maar ek dink ernstig aan daardie Dutch Courage...

Friday, July 3, 2009

In die park

Donuts vir muise



Ek het oorweeg om die blog Wys jou mys te noem, maar toe besluit dat dit dalk ongewenste aandag sal trek... Ons huisie het sy eie muisie. Volgens Rods - ons enigste ooggetuie - is dit maar 'n klein dingetjie. Ek het al simptome van sy bestaan raakgesien: Gate in die kospakke, klein deposito's op die vloer en so aan. Dit pla my nie dat hy my pasta eet nie, maar ek weet nie of hy sy tande geborsel het, al dan nie.

Eers wou ons vir hom 'n jeep koop, maar toe is ek herinner daaraan dat daar meer menslike maniere is en hoe langer ek daaroor gedink het, hoe meer het ek geweet dat ek nie die dingetjie wil doodmaak nie. Siestog, hy is ook dalk soortgelyk aan PH Nortje se reier-storie, 'n wilde, getroude muis. Ek was dus nogal bly toe ons vandag die vangkuil opspoor. Slaap rustig, gewete...

Vannaand probeer ek die kontrepsie aan my sussie verduidelik. Dit lyk soos 'n sirkel, maar net 'n halwe een. So groot soos 'n kleinbortjie, beduie ek uit die bad uit. Sy is lankal in die bed en die soort gesprekke gaan gewoonlik gepaard met 'n klomp uhms en o's. Soos 'n halwe sokkerbal? vra sy. Slim sussie die een van my. Goeie begrippe en halwe woorde. Meer soos 'n donut, verduidelik ek en sy begin giggel oor een van die dokters by die hospitaal waar sy werk, vir 'n pasient 'n donut gegee het in plaas van pille. As ek daai ou was, sou ek juis nie kla as dokters aan die staak gaan nie. Met daai een uit die pad uit, is die hospitaal dalk 'n veiliger plek.

Maar nou sit en wag ek redelik ongeduldig vir ons huismuis om te gaan nesskop in die donut. Dan neem ek 'n foto voor ons hom gaan vrylaat; dan wys ek ons mys...

Wednesday, July 1, 2009

Die huistoe pad

die huis-toe-pad is die pad wat jy vat
as jou siel verdor, maar jou oë bly nat
en jy loop, maar jy weet jy't die koers vergeet-
lê die huis-toe-pad tussen hoop en weet

maar die huis-toe-pad is 'n donker pad
dis 'n opdraend-pad, dis 'n dronkaardspad
dis 'n rowerspad en 'n kronkelpad
want die huis-toe-pad is 'n kronkelpad

die huis-toe-pad is 'n ware pad
maar 'n nare en vol-gevare-pad
dis 'n sloop-maar-pad en 'n stroop-maar-pad
want die huis-toe-pad is 'n hoop-maar-pad

die huis-toe-pad is die pad wat jy vat
as jou siel verdor, maar jou oë bly nat
en jy loop, maar jy weet jy't die koers vergeet-
lê die huis-toe-pad tussen hoop en weet

en die huis-toe-pad is 'n somber pad
dis 'n drink-en-'n-peins- en 'n wonder-pad
dis 'n sukkel en beur en 'n strompelpad
want die huis-toe-pad is 'n kronkelpad

die huis-toe-pad is 'n hartseer-pad
dis 'n enkelpad, dis 'n swart-leë-pad
dis 'n snags-aleen-deur-die-hoop-loop-pad
want die huis-toe-pad is 'n doodloop-pad

Koos du Plessis