Thursday, July 16, 2009

Kapoet

"Ai ek voel so lam en tam, so lam en tam, so lam en tam
Ai ek voel so lam en tam van al die was en hare kam"

Ek dink dis 'n aanhaling uit Boegoeberg se dam - wat volgens die liedjie 'n doodlekker (of volgens my kleinboet 'n dodelike) dam is.

Selfdiagnose is 'n gevaarlike speletjie. Ek weet nou al vir meer as 'n maand dat daar fout is met my. My maats en familie sal my nou vertel hulle weet dit al vir jare. Maar ersnstig nou. My maag is seer. Hy brand so 'n bietjie. Die res van die maag-area is teer. Ek kry krampe in my kuit, my voete brand as ek meer as 100m loop, daar is steekpyne in my arms en my rug bly uithaak, maar lg is normaal. My een knie en ander enkel raak heel pynlik as ek aan die loop kom. en my linkerarm en -been tingle en needles en pins as ek op my maag rus. Verder is ek ongelooflik bleek, kry so dan en wan 'n persoonlike hittegolf en dink aan naar raak (overgeven noem die nederlanders dit). En ek is moeg. Doodsmoeg - of is dit nou lewensmoeg? Plus hierby nog dat ek huilerig, uitgestress, kort van draad en slaperig is, en ek op my eie is genoeg materiaal vir 'n meestersgraad tesis.

Natuurlik het ek al my simptome in Google gaan intik. Volgens die slim omie kan ek enige van 'n klomp onuitspreekbare meestal genetiese siektes, tot depressie tot burn-out onder die seer knie he. Daar is selfs 'n paar opsies vir die beter knie - soos ystertekort byvoorbeeld. Na al die wyshede van die internet, het ek myself gediagnoseer met ystertekort en as gevolg daarvan 'n bietjie burn-out - maar net 'n bietjie... hoop ek.

More maak ek 'n draai by die dokter. Die afspraak is al twee weke gelede gemaak om moesies onder my arm af te vries. Skeer raak interessant so al om hulle. Ek wil sommer dat hy na van die in my nek ook kyk. Hulle het van kleur verander en ek is bietjie paranoies oor ek al soveel keer verbrand het. Darem net bruin en pienk ipv die regtig gevaarlike bruin en swart. Waarby ek eintlik 'n paar sinne gelede al wou uitkom, is dat ek die arts gaan vra om sommer 'n ystertoets ook te doen.

Dan weet ek.

As ek reg was, kan ek myself op die seer skouer klop en wonder waarom ons nog dokters aanhou (behalwe dat hulle moesies afbrand en yster toets). Is ek nie reg nie, sal ek seker maar van voor af vir oom Google gaan deursif vir 'n ander geinspireerde selfdiagnose - of dalk net die keer reg van die begin af die dokter vra.




No comments:

Post a Comment