Friday, July 3, 2009

Donuts vir muise



Ek het oorweeg om die blog Wys jou mys te noem, maar toe besluit dat dit dalk ongewenste aandag sal trek... Ons huisie het sy eie muisie. Volgens Rods - ons enigste ooggetuie - is dit maar 'n klein dingetjie. Ek het al simptome van sy bestaan raakgesien: Gate in die kospakke, klein deposito's op die vloer en so aan. Dit pla my nie dat hy my pasta eet nie, maar ek weet nie of hy sy tande geborsel het, al dan nie.

Eers wou ons vir hom 'n jeep koop, maar toe is ek herinner daaraan dat daar meer menslike maniere is en hoe langer ek daaroor gedink het, hoe meer het ek geweet dat ek nie die dingetjie wil doodmaak nie. Siestog, hy is ook dalk soortgelyk aan PH Nortje se reier-storie, 'n wilde, getroude muis. Ek was dus nogal bly toe ons vandag die vangkuil opspoor. Slaap rustig, gewete...

Vannaand probeer ek die kontrepsie aan my sussie verduidelik. Dit lyk soos 'n sirkel, maar net 'n halwe een. So groot soos 'n kleinbortjie, beduie ek uit die bad uit. Sy is lankal in die bed en die soort gesprekke gaan gewoonlik gepaard met 'n klomp uhms en o's. Soos 'n halwe sokkerbal? vra sy. Slim sussie die een van my. Goeie begrippe en halwe woorde. Meer soos 'n donut, verduidelik ek en sy begin giggel oor een van die dokters by die hospitaal waar sy werk, vir 'n pasient 'n donut gegee het in plaas van pille. As ek daai ou was, sou ek juis nie kla as dokters aan die staak gaan nie. Met daai een uit die pad uit, is die hospitaal dalk 'n veiliger plek.

Maar nou sit en wag ek redelik ongeduldig vir ons huismuis om te gaan nesskop in die donut. Dan neem ek 'n foto voor ons hom gaan vrylaat; dan wys ek ons mys...

No comments:

Post a Comment