Saturday, March 7, 2009

Hamlet

My tannie het 'n Great Dane gehad. As hy myne was, was sy naam Hamlet. Maar as ek na sy temperament kyk, het hy dalk 'n minder great naam gehad.
Eendag laai sy 'n potensiële werker by die stasie op. Synde sy met 'n kombi ry, moes dié dit vir 'n taxi aangesien het, en klim toe sommer so in die middel in en skuif op. Dis toe hy skuinsdraai dat hy sien dat hy en die hond mekaar so mooi in die oë kyk. Op daardie oomblik vlie die man toe oor die sitplekke tot hy heel agter die agterste banke sit - en spring die hond oor dat hy voor langs my tannie land. Van daar het hulle twee mekaar oppad huistoe so skrikkerig om die sitplekke bespied.
Nou waar is candid camera wanneer mens hom nodig het?

Sunday, March 1, 2009

Weskus

My pa het besluit dat ek, Gesina, Danie en Eddie se twee oudstes saam met hom teen die Weskus moet opry. Saterdag is ons wat vir my soos douvoordag gevoel het, hier weg. Ons eerste groot stop, was op Yzerfontein. Ek was eers verskriklik jammer vir myself dat ek my swemklere vergeet het, maar na een toon in daardie weskuswater, was ek dankbaar. Van daar is ons met ietwat van 'n ompad Clanwilliam toe. Ons het by die dam oorgeslaap in 'n chalet en al wat daar kortgekom het, was handoeke. Gelukkig was die Spar op die dorp nog oop.

Vanoggend vroeg het ons met Liezl gesels en hulle het toe net begin opstaan. Die res van die oggend het ons in selfoon-onbereikbare grondpasse rondbeweeg en toe ons uiteindelik naby Ceres weer sein kry, vind ons uit dat ek al weer oom is. William John het sy opwagting gemaak. Ek dink ek weet wat daar gebeur het. Liezl het natuurlik besef die is haar enigste kans om in vrede te gaan kraam voor die kinders terug is. Ek weet die knapie heet William, maar vir my gaan hy Baksteen bly.

Verder geniet ek die kortmouklere verskriklik baie. Daar is nog 'n magdom mense wat ek binne die volgende 7 dae wil sien, maar ek rus darem so tussendeur ook. En ek maak my kop en kamera se memory stick vol herinneringe.

Sunday, February 22, 2009

Vier dae voor my vlug

Oor vier slapies vlieg ek Kaapstad toe vir 'n kort, broodnodige vakansietjie. Ek begin nou regtig opgewonde raak. Net jammer Rods kan die keer nie saamkom nie. Die foto is seker 7 gaar gelede net buite Steytlerville geneem.

Saturday, February 21, 2009

Granate


Volgens die mitologie het ons winter oor die meisie wat Hades ontvoer het, ses granaatpitte geëet het terwyl sy sy gevangene was. As ek reg onthou, was haar naam Ceres, maar dit kon haar ma ook wees. Ses maande van die jaar moet sy by hom deurbring, en dan sit en treur haar ma wie se werk dit is om die blommetjies te laat bloei so, dat sy skoon vergeet om haar werk te doen. Sodra sy haar dogter terug het, dan doen sy weer haar werk. Ek dink sy is bietjie deurmekaar. Pleks sy werk terwyl haar dogter onder in die hel sit en kuier met dié vir die ses maand 'n jaar wanneer sy wel die kans het...

Madri maak die mooiste juwele. Sover het ek al drie van haar skeppings. Die naweek het Thinus vir my 'n ring gegee wat sy vir my saamgestuur het. As ek na die kleur kyk, weet ek presies waarom dit granaatsteen genoem word. Ek is mal oor die ring. Dis so 'n lekker groot knuckle duster en dit pas perfek by die armbandjie en oorbelletjies wat ek reeds het. Armbandjie van Mom (oorspronklik uit Mexico), oorbelletjies self gekoop in Greenwich op my verjaarsdag laasjaar en nou 'n pragtige ring van Madri. Ek is voorwaar geseënd. Nie net het ek goeie vriende en mooi juwele nie, ek kon ook die granaat verslind.



Sunday, February 15, 2009

Valentynsdag in Brussels - foto's van Rods

Diabetes in piesangvorm
Goudvergulde geboue in die markplein in Brussels
Die onstagwekkend gedetaileerde stadsgebou van Brussels
Een van die kant (lace) winkeltjies op die plein

Deur met detail

Mannekinpis mooi opgedress vir die Chinese nuwe jaar
Sonsondergang

Dis verbysterend hoe twee mense met 'n kamera elk op dieselfde plek kan staan en na dieselfde ding kyk, maar tog twee (of in ons geval vele) heeltemal verskillende foto's kan neem. Dis ook handig om toegang tot albei stelle foto's te hê wanneer ek wil blog...

Nelle in Groningen


Kroeshare op 'n reëndag. Die tee was heerlik - al lyk die suiker bietjie weird.

My arms was twee dae na die tyd nog seer van klokke lui. Maar dit was lekker.

Trappe vir dwergies.

Goeters om in te pak


Ek vlieg vandag (Sondag) oor 11 dae. Verrassend genoeg het ek reeds al die presente gekoop wat moet saam. Al 15kg se presente. Laas toe ek in die Kaap gaan kuier het en 'n selfs groter hoeveelheid goed moes saamry, het Gesina hartloos, maar prakties, voorgestel dat ek in my bikini ry. Ek was geworry oor die koue, so sy het as raad 'n jas ook bygevoeg. As ek na die pakaas kyk, dink ek dat ek die keer dalk net haar raad sal moet volg...

Sien julle oor 11 dae. En as ek julle flash ... sorry, dis 'n uitvloeisel van my sussie se raad.