Tuesday, April 29, 2008

Koninginneavond

HTM - Her Terriblycold Majesty
Her Temperamental Majesty :)

My liefieding. Lekkerste goed daardie in die pakkie. Hulle het kaneelsuiker bo-oor...


Ons is plegtig vertel dat Den Haag die plek is om te wees op die aand voor Koninginnedag. Om die saak in perspektief te stel: Die Nederlanders het bitter, bitter min vakansiedae en as hulle die dag een het, gebruik hulle hom optimaal. Hierdie dag word gevier ter herdenking van hulle baie geliefde oorlede koningin se verjaarsdag. Al wat Nederlandse bloed in hulle are het, of die regte stempel in hulle paspoort het, dra oranje, praat luidrugtig, drink heelwat bier, rook suspect goed en as hulle Y-chromosome het, gebruik hulle die baie weird, baie openbare manstoilette. Dis 'n vreemde vierhoekige vorm wat jou privaatheid baie skraps beskerm terwyl jy sommer so in die openbaar van die bier ontslae raak. (Ek is nog nie so lank hier nie - goed verbaas my nog.)

Die middestad was afgekordon vir verkeer en dit was mond-oophang-lekker om tussen al die verhoë en veestereine deur te beweeg. Ek en Rods het selfs langs die pad sulke oranje krone gekry. Myne het ek opgetel, maar Rods het syne legally verkry. Die het darem die regte (verpligte) kleur aan ons uitrustings gegee. Ons het poffertjies verorber en ons verder vergaap aan die menigtes. Daar was ook 'n pretpark met rides en stalletjies waar jy teddiebere kan wen as jy die regte goed raakgooi/skiet. Die bome was vol groot oranjekleurige ronde ligte wat soos lemoene gelyk het toe hulle later aangeskakel is. (Hier word dit mos eers lank na 9 donker.)

As môre in Amsterdam soos vannaand gaan wees, kan ek nie wag om te sien nie. Daar word oranje kleursel in die kanale gegooi en almal het 'n verskoning om hulle vir 'n dag te wangedra. Ek wil gaan kyk hoe lyk die liberaalste stad wanneer hy hom wangedra :)

No comments:

Post a Comment