Friday, April 25, 2008

Sonder 'n kamera

Ek het eendag gelees van 'n man wat die wêreld vol gereis het, maar nooit 'n kamera saamgeneem het nie. Sy redenasie was dat wanneer jou ervarings beperk is tot die venstertjie waardeur jy loer, jy soveel meer mis. Synde die uit my oogpunt geskryf is, kan ek seker maar eers erken dat ek verstaan wat hy sê voordat ek kla dat my kamera nie permanent naby my oog is nie.

Miskien is dit oor alles nog nuut is, miskien oor ek die snaaks in meeste situasies kan raaksien, maar hier is soveel mooi - en soveel raar - dat ek wens ek alles kon vaslê. Die swane wat op die gitswart-nag-water tussen die huisbote rondswem. Die snaakse punk haarstyle. Die ewe rare oranje gewade in voorloop tot Koninginnedag. Die polisieman wat met die besem soos 'n septer in die hand na die fender bender aangestap kom. Die Arabiese mans - waarvan twee camo dra - wat baseball speel tussen 'n klompie woonstelle. Die jong seun op die trein wat iets gerook of gespuit het en in 'n tweegeveg met sy spook betrokke is. Die stokou tannie op die fiets en langs haar die jong meisie wie se los hare oor haar boude waai soos wat sy trap. Waar is my kamera dan?

My ouers en grootouers het gespaar vir hulle oudag. My bankrekening raak net leër, maar ek is besig om my skoensole vinnig dunner te maak en my sak met herinneringe net so haastig te vul. Dalk is die lewe sonder 'n kamera nie regtig so 'n eienaardige gedagte nie; nie heeltemal sonder meriete nie. Maar my foto's is afterall bewyse dat ek tog wel daar was. Bewyse dat Rods wel daar was, synde ek die een is wat die bewysmaker vashou.

As alle goedgaan, post ek môreaand van hierdie bewyse hier sodat ek ook later terug kan kyk en hopenlik dink 'genugtig, was ek ooit so rond?'

No comments:

Post a Comment