Friday, October 3, 2008

Leiden en Alkmaar


Alkmaar is 'n kaas-dorpie. Hulle het elke Vrydag 'n groot opelug kaasmark. So vertel die Hollandse gidsboekie ons. Wat die gids ons nie vertel nie, is dat dit net tot einde September en ook net in die oggend gebeur. Ons het dus die mark gemis, maar die dorpie met sy ryk tradisies en goetertjies om te sien, het opgemaak daarvoor. Die 'balle' by die standbeeldjie, is eintlik kasies. Praat van kasies... In een van die kaaswinkels in Alkmaar.


Leiden is in 1574 ontset (bevry van die Spanjaarde). Dit word nog jaarliks gevier en ons wat in Leiden werk, het 'n pasella vakansiedaggie. Plaas van toe by die huis bly, is ek en Ma na die 'ontsettende fees' toe. Dit was defnitief die moeite werd.

Selfs die windmeule is feestelik


Die kermis het omtrent 50 rides gehad en die hele CBD is vir karre afgesluit en daar was soveel stalletjies dat ek omtrent nou uitgemark is - vir die week ten minste. Dit was net vandag verskriklik koud. Vannaand het ons gehoor dit sneeu liggies in Amsterdam. Toe maak sommer baie dinge skielik sin.

Maar wat 'n dag! Ons het in Leiden 'n ou in goudgeel klompe sien rondloop, het oppad Alkmaar toe in die trein die mooiste Nederlandse pophuisies langs die spoor gesien, het gesmile oor die klein dogtertjie wat met die groot hond loop en het 'n interessante gesprek met die man wat vlaai verkoop in Alkmaar gehad. Om een of ander rede is die winkelbase vreeslik vriendelik as hulle mense 'n gebrabbel van Engels en Afrikaans hoor praat. Vandag was heeeeerlik. Ek het geweet ek het vir ma gemis, maar nie besef ek het haar soveel gemis nie. Sy is nog net vir 'n week en 'n naweek hier, so ek gaan elke oomblik geniet.

Bedtyd

Tuesday, September 30, 2008

Planne vir Parys

Die naweek gaan sommer 'n baaaie lang een wees. Ek het vrijdag en maandag af en gaan die meeste uit die naweek tap. Vrydag is 'n vakansiedag vir almal wat in Leiden werk, want omtrent 500 jaar gelede het Leiden getrou gebly aan Willem van Oranje en toegelaat om hulleself te laat uithonger deur die Spanjaarde. Dit is vir my die vreemdste gedagte om iets wat 'n halfmillenium terug gebeur het, te gedenk, maar nie vreemd genoeg dat ek wel sal gaan werk nie... So Vrydag gaan ek en Mom die feestelikheid gaan gade slaan. Die gebeurtenis gaan glo met stamppot, witbrood en haring gepaard.

Ook op die spyskaart vir Vrydag, is Alkmaar. Dis 'n dorpie noord van Amsterdam en hulle het elke Vrydag 'n kaasmark. Ek en ma gaan natuurlik om hulle kanale te besigtig...

Saterdag, so is die plan, vat ons die kar en ry deur drie lande om Parys toe te gaan vir die naweek. Dit gaan heeeerlik wees. Ons gaan die Eiffel toring beklouter - hopelik met die lift - die Notre Dame se binnekant besigtig, en Sondag oggend 'n rukkie stilsit in die majestieuse wit kerk op die heuwel waarvan ek die naam nie kan spel nie, maar wat sacred heart beteken. Ek wil Rods se rubber arm draai dat hy in die romantiese stad vir my en sy ma parfuum kry en ek sien myself in 'n rokkie aan die trippel op die mooi gesementte walle van die Seine. Dis ook nie te vergesog om iewers te gaan stilsit met 'n glasie wyn in die hand nie...

Die keer gaan ek weer die Louvre net van buite af besigtig, wetend dat die Mona Lisa geduldig sal wag. Eendag, wanneer een van die kunssinniger vriende kom kuier, sal ek saam met hulle 'n dag daar gaan deurbring en die skoonheid van eeue oor my laat stuif, maar dis 'n droom vir 'n anderdag.

Herfs


Herfs is die tyd wat geskep is na jou
met sy naaktheid en bitter verwyt,
want dis jou trots wat saam met die
dwarrelgoud val
wat in stilte vir botseisoen pleit...
Herfsbome snik oor hul koperverlies;
jy huil oor jou hart in jou hand,
maar na hierdie bloeityd, kry ook jy,
my herfsmens
'n bloeisel as ewigheidspand.

Sunday, September 28, 2008

The armpits of the universe


Ek straal seker negatiewe energie uit. Beide Rods en sy ma het my die laaste paar dae probeer oortuig dat ek die regte keuse gemaak het om Nederland toe te kom en dat ek nie vir ewig ongelukkig hier sal wees nie. Dit na ek lankal tot dieselfde gevolgtrekking gekom het en eintlik gedink het ek is vir nou heel ok hier...

Vandag se mededling was net te kosbaar om nie neer te pen nie. My skoonma het in Pretoria grootgeraak, vriende gemaak, daar getrou en haar kinders het net begin skoolgaan voor sy Bloem toe gedwing is. Dit het soos die einde van die aarde gevoel en sy moes van voor af settle en so aan. Ten spyte daarvan dat dit nog in dieselfde land was, was dit vir haar 'n groot aanpassing, so sy weet hoe ek hier moet voel. Om haar punt te illustreer, word ek toe die volgende juweeltjie meegedeel. 'Bloemfontein felt like the armpit of the universe. You know, an arsehole is at least good for something, but the armpits just sweat an stink...'

Party dae wonder ek oor my familie...

Windmills of someone else's mind

Een van Kinderdijk se reuse
Rods en Ma. Almal wat Nederland besoek word verplig om te poseer vir ten minste een windmeulfoto...
Herfs in Gouda
Kermis in Gouda
Ek het dit actually reggekry om op die grasse te fokus...

Saturday, September 27, 2008

Delft en Brussels




Gister was my vrije vrijdag. (Klein lettertjie in Nederlands is reg gespel.) Ons is almal vroeg oggend Rotterdam toe. Daar moes Rods werk toe, so ek en ma het heerlik rondgeloop en onder andere gekyk hoe 'n brug oplig vir 'n boot om deur te kom. Dit bly vir my interessant. - al vermoed ek dat die ouens wat haastig oppad werk toe is, anders voel Van daar af is ons (eerste klas nogal!) Delft toe. Nou in Delft is daar baie te doen. Dis 'n pragtige dorpie. Maar die enigste rede hoekom ons uitlanders die eerste keer daarheen gaan, is die porseleinfabriek. Om daar uit te kom, ry mens met 'n bussie wat in delftblou-patrone geverf is. Die toergids was vreeslik geselserig en ons het geleer dat Delft eers Delf was, toe t'Delf en eers na dit Delft. By die Koningklijke Porselein Fabriek maak hulle soveel meer as net borde. Hulle maak ook hele insetsels vir mure en beelde vir katedrale. Dit is selfs mooier as die breekgoed. Daar is ook 'n meer as lewensgrootte weergawe van Rembrandt se Nagwag, tulpfase en soveel meer. Maar goeie magtag daardie fabriekswinkel is duur! Ek is jammer, maar 120 euro vir 'n koppie en pieringtjie wat soos speelgoed lyk, is bietjie erg.

Ma wou graag 'n souvenir hê, so ons is daarna in Delft se center in. Dis te pragtig. Ons is by 'n hele paar pragtige winkeltjies in waar ware Delft heelwat goedkoper is as by die fabriek, maar ek het iets heel anders gekry wat ek sommer baie lankal begeer het. Klompe. Maar nie die harde houtgoed wat mens net vir paperweights kan gebruik nie... o nee, die sagte fluffy pantofeltjies. Hulle is te cute vir woorde. Lekker gemaklik ook, mind you.

Vandag is ons België toe. Ons is bietjie later as beplan uit die huis uit, so ek het vandag 'n bol deurmekaar krulle gedra ipv my ietwat meer besadigde werkskapsel. Ten spyte van ons gehardloop vir die trem, was ons nie betyds by die stasie vir die internasionale trein nie, so pleks van knorrig wees, het ons in die mark gaan rondloop vir 'n ruk. Ek het dit baie geniet. Rods het vandag darem ook, want ons het poffertjies gekoop. (Hollandse pannekoekies)

Brussels was 'n stad van oordadigheid. Ons het geëet en gekoop. En dit was lekker. Al wat nie lekker was nie, was die soektog na 'n leerbaadjie. Hulle het 'n binnehuise vlooimark waar amper elke tweede stalletjie mooi mooi leerbaadjies verkoop. Ek soek enetjie wat tot op my knieë hang en wat mooi getailor is dat dit soos 'n rokkie lyk. Nadat selfs die 4XL vir my te klein was, het ek moed opgegee. Party dae is nie goed vir mens se ego nie. Ek dink die enigste een wat ok gevoel het, was Mannekenpis. Vir een of ander odd rede was die standbeeldjie vandag geklee. Ek het darem 'n hele boel van sy replikas gekry om stil te staan vir 'n foto.

Vannaand oppad terug huis toe, moes ons tremme wissel. By die tremhalte sien ek toe 'n kattie voor die karre inhol en fietse dodge. Ek gaan vang toe maar die gediertetjie en kry 'n pilhouertjie om sy nek. Die briefie binne-in was so styf opgerol dat ons eers gedink het dis 'n chip. Maar dit blyk toe die kat se naam is Sloerie en woon net om die hoek. Ek het Rods en Mom maar huis toe gestuur en gaan bode speel. Die meisie wat die deur oopgemaak het, was na my sin nie suitably dankbaar nie, maar ek het ten minste bietjie oefening ingekry terug huis toe.

En al die oefening en sukrose het my nou goed gaar.