Friday, May 29, 2009

Special features

Ons moet die kar Woensdag teruggee. Dis die donker wolkie. Die silwer randjie is dat ons die langnaweek vir oulaas Duitsland toe gaan. Die plan is om beide aande in Hirschberg te oornag. Saterdag gaan ons al in die Rhein-vallei afry en kastele kyk. Sondag ry ons deur die Swartwoud. Maandag ry ons terug Nederland toe.

So 'n beplannery gaan altyd met heelwat internet-navorsing, bietjie stryery en 'n groot klomp gelesery gepaard. So lees ek mooi versigtig wat die verskillende hotelle ons bied. By die meeste goedkoop hotelle, is ontbyt nie ingesluit nie, maar jy kan dit boek teen 14 - 20 euro per persoon. Eish! By van hulle moet mens parkering betaal.

Een of twee van hulle sluit 'n sauna of swembad in as features. Daar is ook car parks, babysitting, hairdriers en natuurlik my absolute gunsteling: By een van die Duitse hotelle, is daar onder features 'n heel besonderse en ietwat kommerwekkende inskrywing: Elevator... Beteken dit dat die ander dit nie het nie? Of beteken dit dat dit daardie hotel se enigste claim to fame is? Nugterweet... Maar vir die wis en onwis het ek liefs 'n ander hotel geboek.

No comments:

Post a Comment