Sunday, August 1, 2010

Die dinge by die mark

Ek was Vrydag mark toe vir ditjies en datjies. Eintlik was ek oppad na die Marokkaanse slagter wat in die blok langs die mark sy winkel het, want Saterdag het ons gebraai en daarvoor was lamtjoppies en boerewors nodig. Die lamsvleis moes by die mark gehaal word en die boerewors by die Engelse winkeltjie. Ek het selfs onthou om Runkeeper aan te sit (en by die mark te pause), maar het geen idee hoe om dit na km ipv myle te stel nie.

http://runkeeper.com/user/79352432/activity/13679978

Volgens die website het ek so byna-byna 300kcal verbrand. My skouers ook, maar daarvan is daar nie 'n aantekening op die website nie. Vrydag was nogal 'n warm dag en ek weet dit klink onmoontlik, maar ek het 'n teorie dat as mens op die fiets is, die wind jou gewoonlik van voor af pla.

By die mark het ek 'n ding bedink. Daar hang stalletjies en stalletjies vol klere. As mens die etiket kan opspoor, is daar thought provoking inligting beskikbaar. Soos: 3 op T. Het dit drie mense geneem om dit te maak? Moet jy ouer as drie wees om dit te dra? Oor T wil ek nie eens spekuleer nie. Tiener? Tweeling? Transvestiet? Verdere inligting is kwistig beskikbaar. Die materiaal kom uit Frankryk. Wow. Nie uit China nie??? Die rokkie is in Italia gemaak. Mooi. Daar is 95% katoen in. (Die ander 5% word nie genoem nie.)

Ek het die mark met 'n kop vol vrae (en 'n kg lamsvleis) verlaat. Die grootste vraag wat maar bly tol en tol het, was: Hoekom het hulle nie S, M, L, XL sizes nie? Hoe moeilik kan dit nou wees?

No comments:

Post a Comment