Sunday, August 22, 2010

'n Morbiede blog



Die perfekte moord, so het ek in die speurverhale as kind gelees, is nie regtig moontlik nie. Iewers maak mens 'n fout. Soos die ou in die Victor Hugo boek wat gewag het tot op die perfekte aand om sy moord te pleeg. Hy moes wag vir spring-gety. Intussen moes hy 'n alibi he, sy slagoffer vermoor en van die lyk ontslae raak net om betyds weer iewers ver genoeg van die moordtoneel te wees dat dit onmoontlik hy kon wees. Hoe die storie verloop het, kan ek nie mooi onthou nie, maar hy het alles perfek gedoen en sy slagoffer daar op die strand vermoor. Hy het die man om hom vasgemaak in 'n abba-posisie en moeisaam die see in geloop met die ebgety tot op 'n sandbank amper 'n kilometer die see in. Tussen die branders deur gesukkel. Kort stukkies geswem en byna verdrink van die ekstra gewig op sy rug. Daar was 'n lekker sterk seestroom net langs die sandbank en dit sou die lyk verder vat - en as dit sou uitspoel, sou dit myle verder wees. Daar in die diep water, doodmoeg van sy nag se manewalisse het hy uiteindelik uitgevind wat dit was wat hy in sy perfekte moordplan ontsien het: Rigor mortis. In die skouerdiep water kon hy nie van die lyk op sy skouers ontslae raak nie.

Mens moet regtig aan alles dink. Ek dink in SA is die perfekte moord dalk makliker. Nie oor dit perfekter is nie, maar oor die polisie so oorwerk is, dat hulle dalk die belangrike stukkie inligting gaan mis. Ek het die perfekte moordplan. Laat weet my as julle dit nodig het...

Van moord gepraat. Selfmoord is nie so ver daarvan af nie. Dis net die teiken wat verander. Lewenspolisse betaal nie uit as mens daardie uitweg kies nie. So as jy nou regtig luskry vir hand aan eie liggaam slaan - dit klink onrusbarend dubbelsinnig - dan moet jy dit dus of soos 'n moord of soos 'n ongeluk laat lyk. Maande voor die tyd niks depressief praat, lyk, of veral skryf nie. (Ek sal moet versigtig leef vir die volgende twee jaar na die blog.) Normaal optree, normaal eet, praat, klee. Dis baie moeite. Daarna verdrink, in 'n motorongeluk betrokke wees of per ongeluk van die balkon afval of iets. 'n Bizarre ongeluk.

Selfmoord is egter nie 'n aksie wat mens so haarfyn kan gaan sit en beplan nie. Teen die tyd dat jy emosioneel daar is, dink ek nie jy gee regtig meer om oor lewenspolisse wat nie uitbetaal of naastes wat hulleself verwyt nie. Ek sit nou die aand doodmoeg in die bad en dink ek is nou so rond, as ek ooit in my lewe selfmoord-rede gesoek het, sou dit waaragtag 'n aanvaarbare ene kon wees. Daar is net een probleem. Dink net hoe moeilik die polisie of brandweermanne aan die dikke lyk gaan moet dra! Dit sal eenvoudig net nie deug nie. Ek sal my mos doodskaam. 'n Tweede dood moet sterf - en daarvoor het ek 'n doodsangs.

So lank lewe die morbiede brein in sy morbidly obese liggaam.

Vir selfmoord het ek nie veel raad nie, maar skryf maar vir my as jy 'n moord oorweeg. Ek sal jou vinnig-vinnig die gate in jou plan kan uitwys.

No comments:

Post a Comment