Saturday, April 10, 2010

My fantasy-rok... byna-byna klaar

Dit was ure se werk. Ure en ure en ure eintlik. Die pante moes dubbel uitgeknip word, die omboordsels moes vasgewerk word. Op die skouers en om die hele voorkant moes lip-chord vasgewerk word. Daar is kant om die voorkant en moue gewerk en al die los garetjies moes bygedam en verwyder word. Ek het een oggend wakker geword en gedink dit sou 'n goeie idee wees om ook vir die soom 'n stuk koord om te werk... Arme Rods het 'n beter gedeelte van 'n uur geneem om die gaatjies vir die koord netjies in te sit en af te werk. En nou is dit so ver. Is dit nie te blerrie pragtig nie? Hier sit-staan ek lekker op die slaapbank (waarop ons vannaand gaan moet slaap, want ons matras se sloop is nog drup-nat) in die laatmiddag sonnetjie en voel so trots soos een wat self die patroon uitgedink het.

So wat moet nog gedoen word? Op die moue moet nog wit kat om al die goue koord gewerk word en daar moet koord vasgewerk en gestrik word oral waar die pante bymekaarkom. Verder moet ek daardie goue lap wat ek Vrydag by die mark gekoop het, omtower in 'n rok wat ek daar onder kan dra. Die ski-pants en T-hemp is wel gemaklik, maar dit pas nie heeltemal by die genre nie.

I did it, I did it! Sorry, moes dit net uit die gestel uit kry...

1 comment:

  1. Pratig Nelle, knap gedaan jong. Dit lyk werklik mooi!

    Bly om te sien jy hou Rod uit die kwaad :-)

    ReplyDelete